“Dié seun is vir groot dinge bestem.” Só het Derick Hougaard se afrigters by Boland Landbou sedert sy hoërskooldae geglo. Toe hy op die bloedjong ouderdom van 19 die Curriebeker vir die Blou Bulle help verower en die skopkoning Naas Botha se eindstryd-punterekord verbeter, het dit gelyk of sy pad na roem en rykdom geplavei was. Maar toe begin die dobbelstene vir die liefling van Loftus verkeerd val. Harsingskudding, Kamp Staaldraad, beserings en toe ’n allesverterende pilverslawing wat hom laat steier. Sy sprokieshuwelik is verwoes en sy beroepslewe en geldsake is in ’n warboel. Nou is Derick se volle verhaal in ’n boek saamgestel. Dié boek, slegs getiteld Derick Hougaard, geskryf deur die sportjoernalis Brenden Nel en uitgegee deur Tafelberg-uitgewers, onthul staaltjies oor sy rugbydae, maar vertel ook van vriende en vertrouelinge se vergeefse pogings om Derick uit die kloue van verslawing los te wikkel. Dit is ’n diep menslike verhaal wat wys hoe dun die lyn tussen sukses en mislukking is en hoe maklik selfs die grootste helde tot op hul knieë gedwing kan word. Een Paarl Post-leser kan die boek van R240 wen. WhatsApp jou naam en die naam van die skrywer na 066 484 3728 teen Dinsdag 14 November.


Wen Derick se biografie

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article