Lesley Rooi (17)


Lesley Rooi (17), ’n kranige rugbyspeler en gr. 11-leerder van Bergrivier Sekondêre Skool in Wellington, word vandag, Donderdag 28 Maart – op sy ma se verjaarsdag – ter ruste gelê nadat hy weens dubbele longontsteking dood is.

Lena Rooi, sy ma, het vandeesweek aan Paarl Post gesê Lesley het in Desember erg gewig begin verloor, waarna ’n aantal mediese toetse op hom gedoen is.

“Hy het in daardie stadium ook gekla oor ’n pyn onder sy linkerarm. Ek is toe met hom dokter toe.

“Die dokter het toe gesê hy kon niks fout vind by Lesley nie en dat die pyn onder sy arm deur suur in sy liggaam veroorsaak word. Die dokter het toe maar vir hom medikasie voorskryf.”

Sy sê nadat Lesley aanhou gewig verloor en ook ’n hoes ontwikkel het, is hulle einde Desember weer met hom kliniek toe, waar hy vir onder meer TB getoets is.

Dié toetse het op 9 Januarie negatief terugkom en Lesley is in daardie stadium weer medikasie voorgeskryf om sy simptome te behandel.

“Ons is omtrent die hele Februarie- maand die hospitaal in en uit met hom. Hy het in ’n stadium ook bloed opgebring. Een vroulike dokter het toe aanbeveel dat hy vir X-strale moet gaan, wat toe by die Paarl-hospitaal gedoen is.

“Sy toestand het so erg verswak dat hy in die Tygerberg-hospitaal opgeneem is. Dit is hier waar dokters met die hulp van ’n kamera dubbele longontsteking by hom gediagnoseer het,” het sy ma vertel.

Lesley het Donderdag (21 Maart) sy laaste asem uitgeblaas.

“My kind het gely. Hy het baie, baie swaar gekry. Ek het daardie laaste nag so af en toe ’n lappie gebruik om sy sweet af te vee. Met dagbreek het twee duiwe by die kamervenster in die hospitaal kom sit met hul gesigte na binne en vere na buite.

“My oudste seun en sy vrou het daardie oggend vir hom ’n gebed kom doen. Ek het buite gewag. Toe my oudste seun met trane in sy oë by daai kamer uitstap, het geweet my kind is nou op ’n beter plek. Die Here het hom kom haal en van sy lyding verlos.”

Lesley was een van vier kinders. Hy het twee ouer broers en ’n suster.

“Vir my as ’n ma is dit maar baie hartseer. Dis my babaseun en ek het natuurlik nog nie so iets beleef nie (om ’n kind te verloor).

“Ek het gelukkig baie vriende en familie wat agter my staan en my deur hierdie hele proses ondersteun. Ek dank die Here vir sulke mense.”

Nicole Sauls, verbonde aan die Ocean United-rugbyklub in Wellington, waar Lesley graag rugby gespeel het, het in ’n Facebook-inskrywing hulde aan hom gebring:

“Namens die klub wil ek graag ons innige meegevoel betuig met die heengaan van u geliefde seun Lesley. Dit is ’n bitter pil om te sluk aangesien ’n kind ’n ouer moet begrawe en nie ’n ouer ’n kind nie. Ons vind dus geen regte woord om ons troos uit te spreek nie, maar ons harte is opreg met u as familie.

“Lesley was ’n baie goeie junior speler wat potensiaal getoon het en wat definitief ’n leemte laat in ons span. Mag die Here u vertroos in die tyd van rou.

“Ons gee u Psalm 23 om u te troos en u te verseker dat ons Here Jesus met u syn in hierdie tyd,” het Sauls se plasing gelui.. Lesley word Donderdagoggend om 09:00 vanuit hul woning op die Sandrivier-landgoed naby Wellington begrawe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article