As deel van ’n inisiatief om leerlinge te verwittig oor die vakke wat nodig is om ’n beroep in die nooddienste te volg en die belangrikheid van die werk wat in dié bedryf gedoen word, het die Drakenstein-ambulansdienste in samewerking met die polisie, verkeersdienste, wetstoepassings- en forensiese patologiedienste verlede week ’n ekspo by die Bergrivier Sekondêre Skool in Wellington gehou.
Volgens Terrence Klaasen, die hoof van ambulansdienste in Drakenstein, het die idee van die ekspo, oftewel loopbaan-uitstalling, reeds in 2023 ontstaan.
“Ons het in daardie stadium aanvanklik die Saron-gebied geïdentifiseer, spesifiek omdat ons gevoel het die leerders in daardie gebied nie baie geleenthede het nie.
“Die leerders is oor die algemeen ook nie bewus van die skoolvakke wat nodig is vir ’n beroep in die nooddienste nie.
“Die nood vir so ekspo is toe ook in samewerking met ons gemeenskapsontwikkelingsbeampte in Wellington geïdentifiseer, en dis wat ons vandag hier bring.
“Die doel hieragter is hoofsaaklik bewusmaking van beroepe in ons bedryf. Ons wil seker maak dat leerders bewus is van watter skoolvakke nodig is.
“Ons fokus spesifiek op die gr. 9- tot gr. 11-leerders omdat dit die graadgroepe is waar hulle vakke kies of nog veranderings in vakke kan maak.”
Elke departement het ’n werkstasie gehad waar die gereedskap wat daagliks in hul beroepe gebruik word ten toon gestel is.
Die polisie se uitstalling het gefokus op die verskillende afdelings binne die polisiediens, onder meer openbare orde en die honde-eenheid.
Drakenstein se wetstoepassing en verkeersdienste het ook hul gereedskap wat tydens operasies gebruik word, uitgestal.
Die plaaslike tak van die provinsiale forensiese patologiedienste het leerders ingelig oor die rol wat hulle op ’n misdaadtoneel speel en ’n visuele demonstrasie gedoen van hoe slagoffers se oorskot in die voertuie gelaai word, asook watter gereedskap op ’n toneel gebruik word.
Verskeie demonstrasies ook deur die plaaslike ambulansdienste gedoen waartydens leerders onder meer geleer is hoe om kardiopulmonêre resussitasie (CPR) toe te pas.
Volgens Klaasen hoop hulle om die ekspo ook na ander skole in Drakenstein uit te brei.


