’n Wellingtonse prokureur en voormalige senior vennoot van die gesogte Faure & Faure Inc.- regsfirma in die Paarl sal eersdaags strafregtelik aangekla word vir etlike jare se beweerde bedrog, wat glo miljoene beloop.
Die prokureur, wie se identiteit aan Paarl Post bekend is, is in April vanjaar deur die oudste regsfirma in die Paarl ná ’n tugverhoor afgedank.
Sy beweerde wangedrag is ook intussen by die regspraktisynsraad aangemeld, het Faure & Faure Inc. by navraag bevestig.
Ná sy afdanking het die regsfirma met ’n “diepgaande forensiese ondersoek” begin.
“Hierdie ondersoek sal binnekort afgehandel wees, waarna ’n strafregtelike klagte by die polisie aangemeld sal word.
“Ons kan ongelukkig nie in hierdie stadium kommentaar lewer op die meriete van die klagtes nie,” het die firmagesê.
Volgens die firma was hy reeds in konsultasie van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) ter voorbereiding van die saak.
“Ons konsultasie met die NVG is om te verseker dat die nodige bewyse en getuienis beskikbaar is wat verlang word om die saak verder deur die polisie te laat ondersoek.”
Die firma wou egter nie uitwei oor die aard en omvang van die beweerde bedrog nie.
“Ons vertrou dat u begrip sal hê vir die feit dat ons weens die sensitiewe aard van die saak – veral die strafsaak wat hierop sal volg – nie in hierdie stadium meer inligting kan verskaf nie.”
’n Plaaslike regsgeleerde wat vertroud is met die geskorste vennoot, het egter op voorwaarde van anonimiteit aan Paarl Post gesê luidens gesprekke onder sy kollegas het die vennoot, wat in 2011 by die regsfirma aangesluit het, glo vir etlike jare ’n fiktiewe “advokaat” geskep aan wie maandelikse betalings gemaak is.
“Die bewerings is dat hy dan fakture sou laat uitmaak vir hierdie ‘advokaat’ se dienste wat aan die regsfirma gelewer is.
“Die vermoede is dus dat hierdie geld dan in een van sy persoonlike rekeninge betaal is.
“Hy betaal boonop ook nie inkomstebelasting op hierdie inkomste nie, want dit gaan as ’n uitgawe vir die besigheid deur.”
Hy sê dit is eintlik kommerwekkend dat Faure & Faure nooit vrae gevra het oor hierdie diensverskaffer nie.
“Die vraag is eintlik hoekom hulle vir jare nooit opgelet het dat ’n fiktiewe diensverskaffer op hul betaalstelsel verskyn nie.
“Die Finansiële Intelligensiesentrum (Fica) vereis byvoorbeeld dat jy deeglike inligting oor jou diensverskaffers bekom.”
Volgens hom het dié aktiwiteit glo vir etlike jare aangegaan. Hy kon nie ’n geraamde bedrag gee van hoeveel rand se beweerde uitbetalings gemaak is nie, maar het wel genoem dat dit miljoene beloop.
Hy het ook aan Paarl Post genoem dat hy wel die geskorste vennoot onlangs weer in een van die plaaslike howe gewaar het.
“Ek is nie seker of hy deur ’n ander plaaslike firma aangestel is en of hy net konsulteer nie, maar die man werk steeds.”
Kabelo Letebele, ’n woordvoerder vir die regspraktisynsraad, het by navraag bevestig dat net in 2024 alleen reeds drie klagtes teen die geskorste vennoot aangemeld gemaak is.
Volgens Letebele het geen van dié klagtes egter van Faure & Faure af gekom nie. Sy het ook gesê hul rekords toon dat hy nog by Faure & Faure werk.
Faure & Faure het intussen die skade erken wat gely is weens die geskorste vennoot se beweerde wangedrag.
“Sy afdanking was in die omstandighede redelik en noodsaaklik om ’n herhaling van sy optrede te voorkom.
“Die bestuur van Faure en Faure is vasbeslote om seker te maak dat die reg sy gang neem.
“Ons sal voortgaan om ons belange, insluitende dié van ons personeel en kliënte, te beskerm.”
Paarl Post kon die afgelope twee weke nie daarin slaag om die betrokke prokureur vir kommentaar te bereik nie.