Die Wellingtonse reeksmoordenaar en verkragter Johan Williams.


Die Wellingtonse reeksmoordenaar en verkragter Johan Williams sal nooit weer as ’n vry man die lig van die dag sien nie nadat hy verlede week ’n stewige vonnis opgelê is vir sy gruwelike misdade.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, het bevestig dat Williams agt keer lewenslange tronkstraf plus nog 60 jaar in die hooggeregshof opgelê is.

Williams is in Februarie vanjaar op 19 aanklagte skuldig bevind. Dit sluit in ses aanklagte van ontvoering, vyf aanklagte van verkragting, twee van poging tot verkragting, drie van moord, ’n aanklag van huisbraak met die doel om brandstigting te pleeg en brandstigting, ’n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer en versuim om aan ’n beskermingsbevel te voldoen.

Williams het jong vroue geteiken wat desperaat was vir werksgeleenthede. Hy het aan sy slagoffers werksgeleenthede belowe om hulle uit te lok en dan oorval met bose intensies.

“Die 52-jarige se skrikbewind tussen 2012 en 2018 in Wellington het daartoe gelei dat hy Natalie Jonkers (35), Maria Isaacs (35) en Chantelle Matthyssen (21), wat hy ook verkrag het, ontvoer en vermoor het. Sy modus operandi was dat hy hulle werksgeleenthede belowe het, net om hulle later te vermoor en in vlak grafte te begrawe,” sê Ntabazalila.

“Hy het vir hul families gelieg en hulle laat glo dat hulle nog lewe deur boodskappe van hul selfone af te stuur. Hy het ook vir van die ma’s gelieg en gesê dat hy hul dogters gesien het en dat hulle [die slagoffers] in sekere gebiede gebly het, terwyl hy geweet het dit is nie die geval nie.”

Williams is aanvanklik in 2018 vasgetrek. Hy was glo ’n familievriend van Matthyssen, wat oorspronklik van Kuilsrivier is, en het vir haar gesê dat sy vrou vir haar ’n werk as verpakker by ’n wynplaas op die Bo-Hermonpad buite Wellington het.

Met Matthyssen se aankoms in Wellington het hy haar by die treinstasie gaan oplaai, waarna hulle na sy woonplek is, het Carol Petersen, Matthyssen se ma, voorheen aan Paarl Post vertel.

“Sy het my weer gebel toe hulle by sy wendyhuis in Weltevrede aangekom het. Sy het my vertel die kamer het ’n bed wat baie soos haar eie bed lyk, maar sy sal op die rusbank moet slaap. Hy het vir my dogter gesê sy vrou se ouma is glo oorlede en sy moes Citrusdal toe gaan vir haar afsterwe.”

Kort daarna het Petersen onraad begin vermoed toe sy ’n boodskap van haar dogter ontvang wat van Williams se foon gestuur is. Haar vermoede dat iets verkeerd is, is verder aangestook omdat die boodskap in “hoë Afrikaans” geskryf is terwyl Matthyssen Engelssprekend is.

Matthyssen se ouers het kort daarna na Wellington gereis en na Williams se woonplek gegaan. Hy wou hulle nie binnelaat nie en het gevlug. Die polisie is verwittig waarna hulle Williams se woning deursoek en op die klere afgekom het wat Matthyssen laas aangehad het.

’n Grootskaalse soektog is begin, waarna Williams gevind is. Nadat die polisie hom ondervra het, het Williams daarna gaan uitwys waar hy Matthyssen se lewelose liggaam onder boomtakke op ’n plaas in Wellington gaan stort het.

Kort hierna het Williams vir die polisie gaan uitwys waar hy die liggame van Jonkers en Isaacs begrawe het. Hy het hulle op dieselfde wyse uitgelok voordat hulle wreedaardig vermoor is.

“Die nie-dwelmgebruiker het ook sy eks-meisie en haar twee minderjarige kinders ontvoer, gepoog om te verkrag en haar herhaaldelik verkrag.

“Hy het die beskermingsbevel wat sy eks-meisie teen hom bekom het, oortree. Hy het ook die families van sy slagoffers geterroriseer deur hul eiendom te beskadig of af te brand.

“Williams het skuld ontken en sy onskuld deur die hele verhoor volgehou ondanks die feit dat hy aan die polisie die gebied uitgewys het waar hy die liggame van sy slagoffers begrawe het. Hy het aangevoer dit is toevallig dat al drie vroue laas in sy geselskap gesien is, en hy verstaan ??nie hoe hy skuldig bevind is op die aanklagte wat die Staat teen hom ingebring het nie.”

Adv. Maria Marshall, adjunkdirekteur van openbare vervolging, het Williams beskryf as ’n reeksmoordenaar en verkragter wat geen berou en emosie toon nie. Marshall, asook die regter, Rosheni Alie, het beklemtoon dat Williams ’n uiterste gevaar vir die samelewing inhou en dat die gemeenskap se belange vereis dat hulle beskerm word teen ’n “brutale, gewelddadige, manipulerende, sluwe en pretensieuse mens soos Williams”.

Ntabazalila sê: “Die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, adv. Nicolette Bell, het die ondersoekbeampte, sers. Van Rooyen, en adv. Marshall vir hul uitstekende werk geprys om ’n suksesvolle vervolging en vonnis te bewerkstellig in ’n saak met ’n beskuldigde wat vervolging wou vermy.

“Adv. Bell het ook die families van die oorledenes geprys vir hul dapperheid en bydrae deur getuieverklarings, wat gehelp het om die skuldigbevinding van die beskuldigde te verseker.”

Bell voeg verder by: “Elkeen van hierdie suksesvolle vervolgings is die hoogtepunt van maande en selfs jare se moeisame ondersoek- en vervolgingswerk en is ’n voorbeeld van honderde soortgelyke sake wat daagliks suksesvol afgehandel word. Hierdie sake verskaf ’n mate van geregtigheid en afsluiting aan die slagoffers en hul gesinne en verwyder gewelddadige misdadigers uit ons strate.”

Marshall hoop dat die vonnis ’n sterk boodskap sal uitstuur dat geslagsgebaseerde geweld nie geduld sal word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.