’n Voorstel dat Wellington se inwoners ’n massasaamtrek moet hou teen rondlopers wat die middedorp beset, is enkele van die voorstelle wat ontstoke inwoners in die jongste tyd na organisasies gestuur het wat planne in werking probeer stel om die dorp finaal van sluipslapers en rondlopers te bevry.
Volgens Attie Barnard, een van die Wellingtonners wat hom daarvoor beywer om die owerhede te oorreed om met daadwerklike planne vorentoe te kom om die middedorp van Wellington se oopruimtes skoon en netjies te hou, is hy die afgelope paar weke oorval deur inwoners wat sê genoeg is genoeg, iets daadwerkliks moet nou gedoen word om die dorp van ’n plaag van werkloses en rondlopers te bevry.
“Die skokkende nuus is natuurlik dat betroubare opnames gewys het dat die groepie mense wat langs Victoria Park in die middedorp plak, binne enkele maande van vyf na meer as 30 toegeneem het.” Voorbeelde van die negatiewe uitwerking wat hierdie rondlopers op die lewe in die middedorp het, is legio.
“Inwoners word gewaarsku om nie voor ’n sekere boom in Roosstraat te parkeer nie omdat die mense wat daar rondsit nie huiwer om jou motor se bande af te blaas as jy nie vir hulle geld wil gee nie. Daar word ook gesê dat ’n stuk straat skuins oorkant die kantore van die verkeersafdeling oor naweke gebruik word as ’n plek waar mense bottels drank staan en verorber. Terwyl drank openlik in die openbaar gebruik word, doen die wetstoepassers oorkant die straat absoluut niks daaraan nie.
“Die probleem het volgens inwoners ook ’n negatiewe uitwerking op toerisme deurdat oorsese besoekers en ander toeriste dikwels tussen hierdie groepe rondlopers moet deurstap om by plekke te kom wat hulle graag wil besigtig.
“Om vroegoggend langs Victoria Park in Fonteinstraat op te stap, beteken dat jy deur minstens tien mense se slaapplekke moet stap – bondels komberse en stukke karton wat as matrasse gebruik word, lê oral op die sypaadjie rond.
“Baie van die dorp se inwoners vestig nou hul hoop op die feit dat verskeie raadslede van die Drakenstein-munisipaliteit in die jongste tyd te kenne gegee het dat hulle besig is om planne op te stel om die probleem finaal aan te spreek.
“Die ontstellende berigte wat in die jongste tyd in koerante verskyn het oor die agteruitgang van sommige van Kaapstad se woonbuurte as gevolg van sluipslapers en rondlopers, het nuwe vuur in die soeke na ’n permanente oplossing vir die probleem op Wellington geblaas.”
Volgens Wellington se inwoners is dit ontstellend om te sien dat woonbuurte soos Oranjezicht en Tamboerskloof in Kaapstad by die dag meer vervalle raak as gevolg van die instroming van werkloses.
“Dit beklemtoon die gevaar wat hierdie probleem in Wellington se pad na die groei en ontwikkeling kom lê.”
* Residents of Wellington are now demanding that drastic measures be taken against homeless people that have become a public nuisance in the town.