Woensdag 18 Julie het verskillende organisasies in Wellington hande gevat om vir 67 minute uit te reik na minderbevoorregtes om die wêreld ’n beter plek vir hulle te help maak.
Die SAPD Wellington, Drakenstein Wetstoepasing, Wellington GPF, Sektor 3, Sektor 4, ACVV, WellingtonWAG/Stopmisdaad en Lotze Tweeling Patrollie in samewerking met ander organisasies het as deel van hul 67 minute vir Mandeladag ’n suksesvolle dag in Wellington gehad.
Sop, brood en pakkies is op verskillende plekke waar die behoefte groot is, uitgedeel.
Die dag se program het by Leeuwrivier-plaas begin waar broodjies en geskenkpakkies uitgedeel is en ’n kort boodskap aan die inwoners oor die doel van Mandeladag oorgedra is. Die program het toe verskuif na wonings op die Hexbergpad waar kos en geskenkpakkies aan kinders en vroue uitgedeel is. Die ACVV het op sy beurt ’n kort boodskap aan die inwoners oorgedra.
By Agter-Groenberg Primêr is die kinders bederf met lekker sop en broodjies en sporttoerusting en reënbaadjies is aan die skool oorhandig nadat AO Piere Hugo ’n motiverende boodskap aan die leerders oorgedra het.
Die laaste plek wat die groep besoek het, was Egoli in Wellington waar warm sop en broodjies aan kinders en hul ouers uitgedeel is.
Sektor 3 het die dag by Huis Silwerkruin in Wellington met ’n praatjie oor veiligheid afgesluit.
Die groep het alle betrokkenes vir hul bydrae tot hierdie suksesvolle dag bedank. “Dit is weereens bewys dat Wellington se mense ’n warm hart het en niks ontsien om by te dra nie,” het Stephan Landsberg van Wellington gesê. .