’n Lugfoto wat in Desember verlede jaar deur die Drakenstein-munisipaliteit gedeel is, wys hoe ’n brand by die Wellington-watersuiweringsaanleg se rypwordingsdamme smeul. Foto: Drakenstein-munisipaliteit


Die Drakenstein-munisipaliteit het verlede naweek weer in die spervuur beland te midde van die voortslepende stank afkomstig van sy Wellington-afvalwatersuiweringsaanleg, wat glo veroorsaak word deur veldbrande wat die aanleg se ou rypwordingsdamme bereik.

Die reuk, wat deur sommige inwoners as brandende afval beskryf word, het oor die naweek weer eens in die dorp se lug gehang nadat ’n veldbrand Saterdagmiddag (13 April) naby die aanleg uitgebreek het.

’n Soortgelyk brand – met die gepaardgaande stank – het ook in Desember verlede jaar hier uitgebreek.

Paarl Post het toe berig dat die Drakenstein-munisipaliteit se branddienste in daardie stadium moeilikheid ervaar het om die terrein te bereik.

Volgens die munisipaliteit is die onaangename reuk dié van sy ou rypwordingsdamme, waar ou gedroogde rioolslyk afwaarts brand.

Jürgen Lützeler, wat in die Uitsig-woonbuurt woon, is een van die Wellington-inwoners wat vandeesweek gesê het hy het genoeg gehad.

“Ek woon in Uitsig hier teen ’n kop, so ek kan myself net indink hoe erg die reuk vir mense moet wees wat nader aan die aanleg woon of werk.”

Volgens Lützeler het van die ondernemings wat naby aan die aanleg geleë is, hul werkers Saterdagmiddag weens die stank vroeër huis toe gestuur.

“Ek aanvaar nie die munisipaliteit se verskoning dat sy brandweer nie by die rypwordingsdamme kan uitkom nie. Ek was self daar en het gesien dat dit regtig nie so moeilik behoort te wees nie – veral vir ’n brandweerwa.”

Lützeler sê die voortslepende brande is weens ’n gebrek aan instandhouding en oorsig.

“Hierdie brande kan verhoed word as die veld rondom die aanleg behoorlik in stand gehou word sodat wanneer ’n brand uitbreek, dit nie die rypwordingsdamme bereik nie.

“Die ander kwessie is die toeganklikheid van die terrein. Dit is baie maklik vir enigiemand om hier in te kom en dan ’n vuur aan te steek,” het hy gesê.

Hy sê verder die munisipaliteit moet eerlik en openlik met inwoners oor hierdie kwessie kommunikeer.

“As hulle net van die begin af deursigtig hieroor kon kommunikeer, sou dit nie al die verwarring skep nie. Ons het ’n aantal inwoners gehad wat met al die brande oor asemhalingsprobleme gekla het en gesê het hulle voel nie lekker nie. Ons verwag net dat die munisipaliteit eerlik is met ons oor wat hier aan die gebeur is.”

Ons afvalwaterdienste-afdeling het reeds brandstroke in die gebied aangebring om brande te beperk en toegang vir brandbestrydingsvoertuie te verbeter. Hierdie brandbane sal uitgebrei word om toegang tot ander ontoeganklike gebiede te verbeter vir vinniger reaksietye.
Louis Pienaar, Drakenstein-munisipaliteit

Volgens Louis Pienaar, uitvoerende direkteur van ingenieursdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, was die 57 hektaar rypwordingsdamme tot 2008 nog in gebruik, waarna die aanleg opgeknap is.

Pienaar het aan Paarl Post gesê hierdie gebied kan slegs te voet bereik word en is nie toeganklik vir voertuie nie.

“Ná ’n brandvoorval naby die ou damme op 6 Desember 2023 het die munisipaliteit ’n aksieplan met kort-, medium- en langtermynoplossings ontwikkel.

“Ons afvalwaterdienste-afdeling het reeds brandstroke in die gebied aangebring om brande te beperk en toegang vir brandbestrydingsvoertuie te verbeter. Hierdie brandbane sal uitgebrei word om toegang tot ander ontoeganklike gebiede te verbeter vir vinniger reaksietye,” het Pienaar beklemtoon.

Hy het bygevoeg dat die munisipaliteit besig is met opnames en steekproefneming in die gebied om die haalbaarheid van rehabilitasie te bepaal.

Die munisipaliteit het ’n beroep op inwoners gedoen om nie die aanleg en nabygeleë stortingsterrein te betree nie.

You need to be Logged In to leave a comment.