“Hulle het dit gedoen!”
Dít was die woorde op talle mense se lippe verlede Woensdagaand met die eerste langtafelete wat deur Unite in Kerkstraat, Wellington gehou is.
Hiér is die tafel vir die 1 200 inwoners van Wellington gedek wat toe getrakteer is met ’n heerlike driegangmaaltyd te same met vermaak van ’n klopse-troep, trompoppies en ander kunstenaars – dit slegs vir R20 per persoon.
Kerkstraat was ’n fees van kleure, geure, musiek en samesyn.
“Dié Wellington Unite-gemeenskapsete het as ’n droom by die Wellington-moedergemeente ontstaan,” het ds. Lettie Büchner vertel. “Een kerk-afkondiging later en twee lidmate het hande opgesteek om die reuse-ete vir sowat 1 200 mense ’n moontlikheid te maak.”
Xania van der Merwe, ’n kenner in die toerismebedryf, het die leisels gevat en die dag georganiseer. Van der Merwe het, behalwe aan individue, ook tafels aan sakeondernemings in Wellington verkoop.
Die idee van die ete was om mense na jou tafel te nooi wat nie gewoonlik by jou aansit nie.
Bertus Fourie, ’n sjef, was die ander lid wat ’n sleutelpersoon was om van die aand ’n sukses te maak.
“Ek wil dit waag om te sê niemand in Wellington het 4 Desember honger gaan slaap nie. Ná die ete was daar genoeg kos oor om vir sowat 100 haweloses ’n feesmaal te gee,” sê Bertus.
“Die aand se sukses het ook grootliks gelê in ’n klein hoeveelheid vrywilligers wat verantwoordelik was om die brood te smeer, die wortels te skil, tafels en stoele aan dra en tafels te dek. Ná die ete het hulle ook gesorg dat Kerkstraat sprankelend skoon gelaat is voor die oggend se spitsverkeer,” het een van die organiseerders gesê.• Die bestanddele vir die driegangmaaltyd was: 125 kg wortels15 Karoo-skape1 200 aartappels1 200 broodjies45 kg botter80 liter melk120 1,5 kg malvapoeding25 liter suurroom