Cameron Gerste (24). Foto: Verskaf


Cameron Gerste (24) van Wellington is ’n plaaslike grafiese ontwerper wat die Afrikaanse Taalmonument (ATM) se kenteken-kompetisie gewen en met R10 000 weggestap het.

Gerste se wen-kenteken is tydens die ATM en die Afrikaanse Taalmuseum se 50-jaar-vieringe op 30 November bekendgestel.

“Die ATM het vroeër vanjaar ’n kompetisie vir ’n kenteken uitgeskryf, met R10 000 op die spel. Tientalle inskrywings is ontvang en meer as ’n duisend aanlyn-stemmers het uiteindelik op die skepping van Gerste besluit,” lui ’n mediaverklaring van die ATM.

Gerste het in 2018 aan die Hoërskool Hugenote gematrikuleer en dadelik sy liefde vir teken by die CTU-kampus in Stellenbosch as ’n student in grafiese ontwerp verder ontwikkel.

Hy het kort nadat hy sy studies voltooi het, sy eie onderneming, Risen Design Agency, begin en spesialiseer in die ontwikkeling van ondernemings se kentekens, webtuistes, asook die neem van foto’s en video’s.

Die Risen-span bestaan uit drie werknemers wat saam met Gerste werk. Hulle bestuur tans meer as 10 ondernemings se grafiese-ontwerp-behoeftes.

Hy verduidelik dat hy sy wen-kenteken oor ’n paar dae ontwerp het. Hy het eers goed beplan en nagevors voordat hy dit begin skets het.

“Ek het eers na die eerste en tweede kenteken-kompetisie se wenontwerpe gekyk en die soort ontwerp wat die vorige twee kere gewen het, bestudeer,” verduidelik Gerste.

Daarna het die inspirasie gevloei en Gerste het sy ontwerp in ’n paar uur klaargemaak voordat hy dit in Mei aan die ATM gestuur het.

Nadat ’n paneel beoordelaars na ’n paar ontwerpe gekyk het, is Gerste se ontwerp deur na die topvyf, waarna die publiek hul insae kon lewer en vir hul gunsteling-kenteken stem.

Kort ná hierdie proses het Gerste uitgevind sy ontwerp is die een wat die ATM kies om sy 50-jaar-vieringe mee te kroon.

Die Afrikaanse Taalmonument (ATM) se kenteken vir sy 50-jaar-vieringe. Foto: Verskaf

“Ek het nooit ooit gedink dat ek, ’n leerder wat op skool net-net deur my vakke geskuur het, as die wen-ontwerper vir die wêreldbekende Taalmonument se logo gekroon sou word nie,” het Gerste in die ATM se verklaring gesê.

“Op skool was ek dol oor Afrikaanse mondelinge, want dit het my die geleentheid gebied om, naas kuns, ’n bietjie bo die top- akademiese leerders uit te styg.

“Ek is baie lief vir die taal en vind dit fassinerend om na Afrikaanse programme te luister, veral na die aanbieders en gaste se breë woordeskat,” sê Gerste.

You need to be Logged In to leave a comment.