Hy het nog altyd ’n groot liefde vir plaaslike klubrugby gehad en noudat hy met die “groot honde” in dié sportkode skouers kan skuur, wil hy juis die belange van plaaslike klubs na die tafel toe bring.
Só sê Willie Small van Wellington, ’n advokaat in arbeidsreg en die adjunk-president van die Boland-rugbyunie nadat hy onlangs tot die uitvoerende komitee van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) verkies is.
Small en nog ’n senior beampte van die Boland was onder die benoemdes vir die twee posisies op die uitvoerende raad.
Die verkiesing het verlede week by Saru se jaarvergadering plaasgevind.
Small het vandeesweek in gesprek met Paarl Post gesê dit was nog altyd sy droom om rugby as ’n sport op die hoogste vlak te kan dien.
“Ek is deur die Pumas-rugbyunie benoem en die meerderheid van die rugbyunies wat op Donderdag se jaarvergadering teenwoordig was, was gelukkig met my nominasie.
“Ek het self destyds ’n bietjie klubrugby gespeel. Ek was nou nie so goed met die bal in die hand dat ek Springbok-kleure sou verwerf het nie.
“Ek het myself dus op ’n jong ouderdom op rugby-administrasie toegespits.
“Ek is destyds op 22-jarige leeftyd as die voorsitter van die destydse Rosebuds-rugbyklub in Wellington verkies ,” het Small gesê.
“En dit is waar my loopbaan in rugby-administrasie eintlik begin het. Ek het in daardie stadium vir myself gesê ek wil graag rugby op die hoogste vlak met my gawes en talente dien.
“Ek beskou dus hierdie geleentheid as ’n groot voorreg; ’n prestasie en ’n mylpaal in my betrokkenheid by rugby,” het Small gesê.
Hy het voorts gesê hy sal tydens sy termyn by Saru die belange van plaaslike klubs na die tafel toe bring.
“Boland is die unie met die meeste amateur-rugbyklubs – ek wil amper sê – in die wêreld. Die realiteit is egter dat daar heelwat uitdagings in gemeenskapsrugby is.
“Ek het nog altyd ’n groot belangstelling in die herlewing van die sport op plaaslike vlak gehad. Ek wil dus deur middel van Saru teruggee aan die unies wat die vertroue in my geplaas het om rugby op ’n nasionale vlak te dien.”
Small gaan vir die volgende vier jaar in Saru se uitvoerende komitee dien.
Hy gaan waarskynlik binnekort die tuig as adjunk-president van die Boland-rugbyunie moet neerlê om op hierdie nuwe hoofstuk te fokus.