Bennie Wiggins boer al met duiwe vandat hy vier jaar oud is. Foto: Tandy-Lee Marinus


Die bekende sakeman en kranige duiweboer van Wellington, Bennie Wiggins, groet dié dorp na bykans 46 jaar.

Bennie was al die jare ’n bekende in die motorbedryf en het in 1983 saam met sy broer James die bekende motorhande­laar, Bainsford Motors, in Wellington begin.

Van kindsbeen af het Bennie aan duiwesport deelgeneem.

Bennie dink met heimwee terug na waar sy liefde vir dié sport begin het.

Bennie sê sedert hy verstand gekry het, was daar duiwe in hul agterplaas. Dit was ’n sport waarvoor hy reeds van jongs af lief geword het. Hy was maar net vier jaar oud toe hy saam met sy broer, Pietie, wedvlug­duiwe gevlieg het. Dié twee het ook die junior klub gestig.

“Gedurende skoolvakansies het ons met die buurkinders en ander maatjies duiwe gevlieg,” sê Bennie.

Volgens hom het dié sport oor die jare baie verander, veral met die tegnologie wat nou baie help – die vliegtyd van ’n duif word nou outomaties op ’n rekenaar aangeteken. Hy verwelkom al hierdie nuwe verwikkelinge en vind dit baie interessant.

“Vir dié wat nie weet nie, duiwesport is ’n gespesiali­seerde sport waar wedvlug­duiwe deur hul eienaars vrygelaat word om oor ’n noukeurige afgemete afstand na hul bestemming terug te keer.

“Die tyd wat die duif neem om die spesifieke afstand te voltooi, word gemeet, bereken en vergelyk met al die ander duiwe in die wedloop om te bepaal watter duif teen die hoogste spoed teruggekeer het,” verduidelik Bennie.

Bennie sê dit is ’n sport wat baie tyd en opoffering verg aangesien jou duiwe daagliks goed versorg moet word.

In 1973 het hy by die Wellington-duiweklub aange­sluit en is dieselfde jaar as sekretaris verkies.

Hier in Wellington het Bennie die geleentheid gehad om sy stokperdjie behoorlik uit te leef om voltyds met duiwe te begin boer en te vlieg.

Hy het tussen 50 tot 60 teelduiwe en sowat 15 troetelduiwe gehad.

“Met die intrapslag het ek sommer ook die eerste wedvlug van die seisoen gewen.”

Die ywerige duiweboer was ook verskeie jare klubkampioen en sy hoogtepunt was toe hy in 1988 die Suid-Boland-Boberg se federasiekampioen was.

Bennie sê hy gaan beslis nie duiwesport los nie en moedig veral jong mense aan om deel te neem aan duiwesport, “al is dit ’n oumansport”, skerts hy.

Hoewel hy steeds voorsitter en tesourier van die Wes-Kaap-duiwevereniging is, het die tyd aangebreek om ’n bietjie sy tuig neer te lê.

Saam met sy vrou Eugenie gaan Bennie volgende jaar na die koelte van die kusdorp Stilbaai verhuis.

You need to be Logged In to leave a comment.