Judith Garnett-Bennett van Wellington is een van die 50 deelnemers wat saam in ’n klein huisie nesskop as deel van VIA se nuwe werklikheidsreeks, Trap! Dis my huis.
In dié reeks woon 50 mense vir drie weke in ’n tweeslaapkamerhuis in ’n noordelike voorstad van Kaapstad en ding mee om ’n prys van tot R1 miljoen.
Op 20 is Judith, ’n fiksheidsinstrukteur, een van die jongste deelnemers. Indien sy die boerpot losslaan, wil sy graag haar ouers help om die skoolgeld van haar twee susters te betaal en ’n motor koop.
Judith beskryf haarself as ’n “mense-mens” en was dus nie afgeskrik deur die beknopte huisie wat sy met 49 ander vreemdelinge moes deel nie.
Dit was egter die beperkte kos – net genoeg vir twee – wat vir haar ’n groot uitdaging was.
“Die eerste dag was dit aaklig, want toe ons inkom het almal die kos gegryp. Ek was honger en baie mislik. Ons het net groente en tuna geëet en dit is waarvan ek die minste hou,” sê Judith.
Indien die groep nog benodigdhede wil aanskaf, kos dit hulle ’n aardige bedrag.
’n Rol toiletpapier kos byvoorbeeld R1 000 en ses biere R5 000, wat van die prysgeld afgetrek word. Hulle het wel die geleentheid gehad om die geld deur kompetisies te vermeerder.
Tóg het Judith dit geniet om aan die program deel te neem.
“Dit was verskriklik lekker! Die feit dat ek nie ’n foon gehad het nie, het dit laat voel asof ek in my eie wêreld is. Vir daardie tydperk wat ek in die huis was, het ek niks verantwoordelikhede gehad nie.”
Volgens Judith kan kykers nog baie drama en lekker partytjies verwag. “Die kos word later darem meer,” skerts sy.. Die program word Woensdae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Heruitsendings is Vrydae om 18:00 en weer Saterdae om 22:00.