Die bekende Wellingtonner Christiaan Abrahams is die afgelope naweek oorlede.Foto:


“Ons het ons steunpilaar verloor – ons pa en eggenote, ’n gemeenskapsleier, ’n ywerige sportman, ’n kerkman en ’n jeugleier. Woorde sal nooit kan beskryf wat hy vir die hele gemeenskap beteken het nie.”

Só sê raadslid Christophene Kearns ná die skielike afsterwe van haar pa, die bekende Christiaan Abrahams.

Christiaan, beter bekend as Medal, is Saterdagaand by sy huis in Wellington oorlede. Sy familie vertel hy het die afgelope paar jaar met hartprobleme gesukkel.

Christiaan was ’n gebore en getoë Wellingtonner en het bykans sy hele lewe daarop gefokus om sy gemeenskap op te hef.

Hy was ook ’n kranige sportman en het as rugbyspeler vir die Wellington- en Rosslyn-rugbyklubs asook Boland uitgestyg.

Christiaan is ook weens sy absolute toewyding aan rugby deur die SA rugbyunie (SARU) as een van sy sogenaamde Legends vereer.

Hy was ook ’n stigterslid van Wellington se bekende klopsetroepe, die Hillcrest Starlights en Superstars.

Christiaan was ook betrokke by die plaaslike politiek en was ’n wyksraadslid van die munisipaliteit.

“Die ontwikkeling van die jeug was ook baie belangrik vir hom,” onthul Christophene oor haar pa. “Hy het gesê hulle is die boublokke van ons toekoms en ons moet hierdie boublokke sterk maak.”

Christiaan was ook lid van Weltevrede Sekondêr se beheerliggaam.

Christophene het bygevoeg dat haar pa ook goed onthou sal word vir sy liefde vir goud, die juweliersware waarvoor hy so lief was om te dra, en sy sê hy het ook ’n “hart van goud” gehad.

Christiaan word oorleef deur sy vrou, Josephine, hul kinders en die egpaar se kleinkinders.

’n Roudiens word vandag (Donderdag 11 Julie) 19:00 by die VGK Bergrivier gehou.

Saterdag is die besigtiging – ook by die VGK – van 08:30 tot 09:30 waarna die begrafnis sal plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.