Die Wellingtonner Johan van Zyl (links) op die podium ná afloop van die Vasteland van Afrika-bergfietskampioenskap in Namibië, saam met sy mede-Suid-Afrikaners Daniel van der Walt (goud) en Tristan Nortje.Foto: Gerrit van Zyl


Trap vir al wat jy werd is, Boeta!

Dít was Saterdag die mantra van die Wellingtonner Johan van Zyl by die Vasteland van Afrika-bergfietskampioenskap in Namibië.

Johan, ’n matrikulant van HTS Drostdy in Worcester, het ’n silwer medalje in die afdeling vir junior mans verower.

Van Zyl het vyf weke gelede sy pols gebreek, maar het ’n gewrigstut gedra en was vyf keer die tweede vinnigste om die baan. Hy het die roete oor 23 km uiteindelik in een uur en 55 sekondes voltooi. Hy was slegs 16 sekondes agter die wenner, Daniel van der Walt, ook van Suid-Afrika.

Van Zyl en Van der Walt ken mekaar goed, en is al twee van die Wes-Kaap.

Bergfietsryers uit sewe Afrikalande het aan die byeenkoms deelgeneem. Naas Suid-Afrika was Lesotho, Botswana, die Ivoorkus, Namibië, Zambië en Mauritius ook verteenwoordig.

Suid-Afrika het ’n span van 25 ryers na die Afrika-byeenkoms in Windhoek gestuur. Dit was Van Zyl se eerste keer in Suid-Afrikaanse kleure. Hy het in Februarie ná twee suksesvolle SA beker-byeenkomste in Durbanville gekwalifiseer.

Bergfietsry word as skoolsport by HTS Drostdy aangebied, en Johan het in graad 8 begin ry. Hy word sedert 2018 afgerig deur Ben Capostagno van Science 2 Sport, en volg ’n oefenprogram wat minstens 12 uur per week in die saal beteken.

You need to be Logged In to leave a comment.