Die derde seisoen van die baie gewilde kookkompetisie Kokkedoor sal binnekort weer op die kassie wees en beloof om weer die perfekte kombinasie van onthoukok en kinkelkok te wees.

Die eerste twee seisoene van Kokkedoor het in Prins Albert in die Karoo afgespeel. Maar vir die derde seisoen gaan 20 deelnemers – 10 onthoukokke en 10 kinkelkokke – hulle in Kaapstad moet aanmeld.

Hetta van Deventer-Teblanche en Nic van Wyk sal ook weer terug wees as beoordelaars, maar gaan dié keer deur die bekende kosskrywer en -blogger Sam Woulidge bygestaan word.

Die Paarl het reeds sy bekende Kokkedoor-wenner, Mynhardt Joubert, opgelewer, maar nou blaas die Wellingtonner Anmar Wilding in sy nek.

Anmar is ’n gesoute bakker en bestuur haar eie onderneming in dié dorp, Crumb Cakes, wat op trou- en geleentheidskoeke asook fyngebak fokus.

Sy het hierdie onderneming in 2010 in Engeland begin en daarmee voortgegaan toe sy in 2016 teruggekeer het hierheen.

Anmar werk ook vir Slippery Spoon Kitchen, ’n spysenieringsonderneming wat aan die vorige wenner en naaswenner van Kokkedoor, Johnny Hamman (2014 se Kinkelkok-wenner) en Marius Uys (die Onthoukok-naaswenner) behoort.

En dit is juis hierdie twee Kokkedore wat Anmar se talent as kok raakgesien en haar aangespoor het om aan die kompetisie deel te neem.

Anmar het dus ’n aansoekvorm ingevul – ’n boek vol vrae, vertel sy. Daarna is sy en 3 000 ander hoopvolle kandidate ingeroep vir oudisies wat bestaan het uit onderhoude asook disse wat hulle moes voorberei.

Sy het byna hoop verloor, maar was uit die veld geslaan toe sy in kennis gestel is dat sy een van die handjievol uitverkorenes is wat aan die program gaan deelneem.

En hoe was dit om aan die diep kant voor ’n klomp wild­vreemdelinge ingegooi te word en heeldag voor ’n groot kamera en produksiespan te staan en bak en brou?

“Dit was vir my soveel pret – ek sal dit more weer doen,” sê Anmar.

“Dit was baie spannend, en die tydsbeperkinge is verskriklik knap – die hoeveelheid kos wat jy moes kook in ’n tyd wat dikwels veels te min was. Die beplanning daarvan en die hele span inhoudvervaardigers wat met jou staan en gesels, het dit nogal moeilik gemaak.

“Ek het ’n klomp wonderlike mense ontmoet en ek sal selfs so ver gaan om te sê ’n beste vriendin. Al die deelnemers het in die proses baie na aan mekaar geraak en dit staan rêrig uit vir my teenoor vorige seisoene wat maar baie drama gehad het.”

Maar verder moet Anmar se lippe verseël bly oor alles wat op die Kokkedoor-verhoog plaasvind totdat die reeks op televisie verskyn.

Nou, ná Kokkedoor, hoe sien Anmar haar pad vorentoe in die kosbedryf?

“Ek is al amper 20 jaar in dié bedryf so ek dink as ek dit tot nou kon uithou sal ek nog ’n lang pad as sjef kan stap.”

Anmar fokus nou om Crumb Cakes nog verder uit te brei.

As gesoute sjef en koskenner, wat is dan háár uiterste trooskos ná ’n baie lang en harde dag op haar voete in die kombuis, en wil sy net agter ’n boek wegkruip?

“Ek is mal oor shakshuka en ek en my man eet dit gereeld. Eiers word geposjeer in ’n vurige tamatiesmoor – dit werk heerlik saam met roosterbrood! • Wellington baker Anmar Wilding tells of her love for cooking and her appearance in the popular TV show Kokkedoor.

You need to be Logged In to leave a comment.