Die voortslepende droogte gaan boere wat krisante kweek nie keer om aan Wellington se krisante skou mee te ding nie.

En een van hierdie ywerige boere, wat al jare by die kweek van krisante én die skou betrokke is, is kapt. Marchell Rhode. Dié polisiebeampte van Newton kweek al vir langer as 20 jaar krisante.

“Jare gelede het ’n lid van Wellington-tuinbouklub my gevra om na sy blomme te kom kyk. Dié krisante het my asem weggeslaan en ek het net daar besluit om ook krisante te kweek,” sê Marchell.

Van daardie tyd af bring Marchell die meeste van sy vrye tyd tussen sy krisante in sy kweekhuis deur.

Hy is ook ’n lid van Wellington-tuinbouklub en met die klub se 100ste bestaansjaar in 2016 het hy by die jaarlikse blommeskou die titel as algehele wenner vir die beste blom gewen.

Hy was voorheen drie keer as die spider-kampioen (soort krisant) aangewys en het ook twee keer die prys vir die kampioenblom gewen. In 2003 het hy sy nasionale kleure vir die kweek van krisante verwerf.

“Die geheim om ’n kampioenblom te kweek, is om die plante gesond te hou, gereeld water te gee asook om met hulle te praat. Dan gaan jou blomme bo die ander uitstaan,” verduidelik Marchell.

In sy netjiese kweekhuis in Newton wat vol krisante is, staan 120 van hierdie blomme in bakke.

“Augustus plant ek reeds my plantjies in ’n bak en dan moet hulle gepamperlang word tot Mei wanneer dit die skou is. Ek hou die blomme daagliks met valkoë dop,” voeg hy by.

“Verder is dit vir my belangrik dat ek my plante moet bemes om seker te maak hulle bly gesond. Daar word aan elke individuele plant aandag gegee en enige dooie blaartjies word versigtig afgehaal en ek kyk gereeld dat die stam reg is sodat die plant penregop staan.”

’n Vasberade Marchell het homself belowe dat sy plante nie vanjaar van die droogte en hitte gaan vrek nie.

Op die vraag hoe die droogte die kweek van die plante beïnvloed en hoeveel water die plante moet kry, het hy geantwoord: “My plante kry ’n halwe liter water, afhangend hoe die grond lyk. Ek maak hulle nat met opvang-, stort- of selfs swembadwater. Ek het baie moeite die jaar gedoen en hoop dat my blomme sal wen”.

Verlede jaar was Anthony Carvaneulis, ’n onderwyser van Bergrivier Sekondêr, die kampioen by Wellington se krisante-skou.
.
Dié jaar se skou word 5 Mei in Wellington-stadsaal gehou en die nasionale skou vind in Pniël plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.