Die Wellington-boorling Godlen Masimla het omtrent sy stempel op die Stormers-span afgedruk.
In ’n tawwe wedstryd teen die Leeus in Johannesburg Saterdag 15 Februarie, het dié skrumskakel binne 19 minute sy teenstander se aangee fyn dopgehou, die bal “gesteel” en meer as 50 meter vir ’n wegholdrie gehardloop.
Die Stormers het later dié naelbyt-affêre met 33-30 in die doodsnikke gewen.
Dit volg nadat Godlen ’n seldsame begin in die nommernege-trui in die afwesigheid van die Bok-skrumskakel, Herschel Jantjies, ten volle benut het.
“Ek wou net die beste van die geleentheid maak, die basiese dinge reg doen en die res soos daardie intercept try, het vanself gekom,” vertel die oudleerder aan Hugenote Hoërskool in Wellington.
Hoewel daar sterk kompetisie tussen Herschel, Godlen en Paul de Wet vir die skrumskakel-posisie is, meen hy dit bring die beste in hulle na vore.
Volgens Godlen is dit juis hierdie spangees wat bydra tot die Stormers se goeie spel. Die span is teen druktyd die enigste onoorwonne span in die Superrugbyreeks.
Godlen skryf sy sukses aan harde werk en dissipline toe. “Daar is ’n gesegde wat sê: Hard work beats talent, if talent doesn’t work hard. Dit is iets wat ek altyd in my rugbyloopbaan saamvat en toepas.”
Die Wellingtonner is egter geen nuweling in die span nie. Hy het in 2015 sy debuut vir die Stormers teen die Sharks gemaak, daarna het hy vir die Southern Kings in 2017 uitgedraf en later weer na Nuweland teruggekeer.
Hy wil opkomende rugbyspelers in die Drakenstein bemoedig om nie te veel te fokus op skoolprestasies nie indien hulle eendag professionele rugby wil speel.
“Dit maak nie saak waar jy vandaan kom nie, by watter skool jy was en of jy provinsiale rugby op skoolvlak gespeel het nie. Jy moet net biddend bly, hard werk en nooit moed opgee nie. Dit is belangrik dat jy gedissiplineerd is en net fokus op dit wat jy wil bereik in die lewe,” laat hy hoor.
Die Stormers speel Saterdag 29 Februarie teen die Blues op Nuweland.