Die span van Wellington Wyne het rede om fees te vier nadat hulle skoonskip gemaak het by vanjaar se SA Jongwynskou. Hulle is van links: Johan Hurter, Daniel Slabber, Christo Smit (agter), Francois van Niekerk en PW Botha. Foto:


’n Gehoute Cabernet Sauvignon van Wellington Wyne het koning gekraai deur die prestigeryke Generaal Smuts-trofee as algehele SA Kampioen Jongwyn van 2023 te verower nadat dit ook as die beste cabernet sauvignon (gehout) in die land by die SA Jongwynskou aangewys is.

Wellington Wyne het die Genl. Smuts-trofee voorheen ook in 2018 vir ’n gehoute pinotage gewen en vanjaar ’n tweekuns behaal deur ook die Pietman Hugo-trofee los te slaan.

Hierdie jaarlikse skou vir wyne van die huidige oesjaar word deur die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) in samewerking met Agri-Expo aangebied.

Die Genl. Smuts-trofee is 27 jaar laas, in 1996, aan ’n cabernet sauvignon toegeken en dit is die sesde keer in die bestaan van dié 191-jarige kompetisie – die oudste van sy soort ter wêreld – dat ’n cabernet sauvignon dié groot prys losslaan.

Vanjaar is hy die 72ste wenner daarvan.

Wildekrans-landgoed het die grote laas in 1996 met ’n “cab” gewen, Muratie-landgoed in 1995, JP Bredell Wyne in 1993, Saxenburg-landgoed in 1991 en Klein Constantia-landgoed in 1988.

Die kompetisie se indrukwekkende versameling trofeë is 25 Augustus toegeken by ’n spogdinee wat deur die Paarl-jongwynstreek by die Dawn Mountains-lokaal naby die Paarl aangebied is.

Altesaam 44 wyne het klaswenner-status behaal en 79 het goue medaljes ontvang.

Wellington Wyne het ook die Pietman Hugo-trofee vir die wynmakery wat die meeste punte met sy vyf beste wyne behaal het, gewen. Dit is die eerste keer dat Wellington met dié trofee wegstap nadat hy dit in 2020 met Robertson Kelder gedeel het. Wellington Wyne het hiermee slegs die vierde kelder geword wat al twee dié spogtrofeë sedert die instelling van die Pietman Hugo-trofee in 1994 gelyktydig wen.

Die Genl. Smuts-trofee word sedert 1952 toegeken en die ander kelders wat die tweekuns behaal het, is Badsberg in 2009 en 2016, KWV in 2015 en Namaqua Wyne in 2017.

Die feit dat die algehele aantal inskrywings meer as verlede jaar was, wys die oudste wynskou in Suid-Afrika het nuwe momentum gekry. Die beoordelaars was besonder beïndruk met die gehalte van die 2023-wyne, ondanks ’n oesjaar wat weens die reënweer in die laaste gedeelte van die parstyd vele uitdagings aan wynmakers gestel het.

Vanjaar se 1 250 inskrywings is deur 65 spesialis- beoordelaars op 14 panele in oënskou geneem. Die beoordeling het einde Julie by die Johann Graue-saal op Nederburg in Paarl oor vyf dae plaasgevind, waarna die kampioene in 16 klasse aangewys is, asook die twee trofeë vir die beste wyn en beste produsent.

’n Spesiale bottelplakker is in 2013 ingestel om op die wenner van die Genl. Smuts-trofee se bottels te pryk en sodoende die algehele beste jongwyn van die jaar in die markplek te vertoon. Dít het daartoe gelei dat al meer trofeewenners in die jongste jare as sodanig gebotteleer is in plaas daarvan om deur verdere versnyding hul “identiteit te verloor”.

Wat die algehele uitslae betref, het Wellington Wyne ’n verdere uitsonderlike prestasie behaal deur ook vier kampioen-rooiwyne te wen naas die Genl. Smuts- en die Pietman Hugo-trofee, naamlik die SA Kampioene vir cabernet sauvignon (gehout), pinotage (gehout), shiraz (ongehout) en merlot (ongehout).

You need to be Logged In to leave a comment.