Wellington Wines
Wellington Wines het verlede Donderdag (20 November) sy jaarlikse jaareindgeselligheid gehou. Foto: Jana Scheepers

Wellington Wines het nie vanjaar hul produsente en aandeelhouers by hul jaar­eindgeselligheid teleurgestel nie – klanke van Gian Groen het die gaste vermaak en heerlike disse is saam met die wyn geniet.

Volgens Francois van Niekerk, die uitvoerende hoof van Wellington Wines, is hierdie geselligheid ‘n jaarlikse instelling en ‘n kans vir die kelder om hul produsente en aandeelhouers “vir hul harde werk te bedank”.

Van Niekerk, wat reeds sedert 2014 deel is van die span, het verduidelik die kelder se produsente kom uit die Paarl, Wellington asook die Swartland en verskaf wit en rooi wyndruiwe aan Wellington Wines.

Die geselligheid het met ongeveer 80 gaste gepronk wat na die aand genooi is en by die kelder betrokke is en hulle is bederf met ‘n legio goeie gehalte wyne van Wellington, Franschhoek en Stellenbosch.

Die oorgrootte meerderheid van die wyne wat geproe is, was Wellington Wines se La Cave-reeks, asook die Duke-reeks se gewilde White Pinotage.

Die gaste kon ook aan Die­mersdal in Durbanville se 2022 Syrah en die Winshaw Family Vineyards in Stellenbosch se Pinot Gris proe.

Produsente en aandeelhouers is verder bederf met ‘n prosecco van Italië, ‘n pinot noir brut sjampanje van Frankryk wat oor die R800 per bottel werd is, en ‘n Le Lude MCC van Franschhoek asook twee rooi wyne van die Bordeaux-streek in Frankryk waarvan die waarde oor die R700 per bottel is.

LEES OOK: Paarlse wyne steel die kollig by 2025 SA Jongwynskou

Nadat die wynlus geblus is, het die bekende Afrikaanse kunstenaar Gian Groen sy gehoor met onder meer twee liedjies, wat eers in Desember uitgereik gaan word, vermaak.

‘n Voorgereg van Weskusmossels in ‘n romerige witsous is bedien met ‘n lamspotjie as die hoofgereg. Vir poeding kon gaste vrugte met kardemomjogurt eet en alles met wyne, wat vrylik gevloei het, afsluk.

Volgens Van Niekerk is Wellington Wines se beste verkopers landwyd die La Cave- en Duke-reekse en doen chenin blanc en pinotage veral goed.

Oor die landsgrense voer die kelder sy wyn uit na hoofsaaklik Europa, die Verenigde State van Amerika asook na die Ooste, waar die La Cave- en Duke-reekse nét so gewild is.

Die kelder is nie verniet so gewild nie en het gedurende 2025 verskeie pryse verower:

  • Die 2024-Duke-reeks se Merlot het ‘n plek onder die Merlot- Top10-toekennings verower;
  • By die onlangse Platters-wyntoekennings het die La Cave-reeks koning gekraai met hul 2023- Cabernet Sauvignon wat vier sterre verower het, asook die 2024-Chenin (4,5 sterre), die 2022-Pinotage (vyf sterre) en die 2022-Shiraz (vier sterre);
  • Tydens die Veritas-toekennings het die kelder se 2023- La Cave Pinotage dubbelgoud gewen en die 2023- Duke Merlot goud;
  • By die Absa-Top-10-pinotage-toekennings het die 2024-Duke Pinotage onder die Top-10 beland; en
  • By die SA Jongwynskou het Wellington Wines altesaam 17 goue toekennings ontvang.

Van Niekerk het gesê Wellington Wines sien uit na ‘n goeie 2026-oesjaar nadat die “sterk winde laat gekom het”.

Hy het bygevoeg hy hoop nog reën sal voor die einde van die jaar val.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article