’n Groep vrywilligers is reeds hard aan die beplan aan ’n groot inisiatief om ’n duisend Wellingtonners uit alle sfere later vanjaar om een etenstafel te verenig.
As alles volgens plan verloop, sal die Wellington Unite-langtafel-ete Woensdag 4 Desember onder die Kersliggies van Kerkstraat gehou word.
Die plan met die Wellington Unite-ete is dat 1 000 mense om 100 tafels bymekaarkom vir ’n driegangmaaltyd. Die spyseniering word behartig deur ’n span onder leiding van Bertus Fourie.
Kaartjies is reeds teen R20 elk te koop. Sakeondernemings en ander instellings kan tafels en dienste borg en só help om al die kostes vir die geleentheid te help dek.
“Ons hoop dat Wellingtonners hul verskille daardeur vir een aand opsy sal sit, as gemeenskap mekaar se geselskap geniet, nuwe vriende uit ander geledere maak en die dorp en sy mense vier,” sê Xania van der Merwe, een van die talle vrywilligers wat by die reëling betrokke is. “Dis ’n kans om interskole-tweestryde te bêre, van politieke partye, status, meningsverskille en ander probleme te vergeet en selfs vir Springbok-ondersteuners om net vir een aand gesellig saam met hul All Black-buurmanne te verkeer!
Die inisiatief is ’n uitvloeisel van die NG Moedergemeente in Wellington se Aan Tafel-tema vir die jaar, maar is nie tot spesifieke gelowe, organisasies of gemeenskapsgroepe beperk nie.
“Die Wellington Unite-projek is egter veel groter as net een gemeente of organisasie. Dit skep die geleentheid om soveel mense moontlik bymekaar te bring,” sê Clifford Asia van die VGK Bergrivier, Wellington, Bovlei en Van Wyksvlei.
“Dit word deur vrywilligers gedryf. Baie aspekte is reeds reg, maar ons het so veel as moontlik hande, wilskrag en ondersteuning nodig om dit te laat gebeur.”
Die projek kry agter die skerms goed momentum. Tientalle gemeentes, skole, gemeenskapsorganiasies, sakeondernemings asook die Drakenstein-munisipaliteit en plaaslike toerismevereniging het reeds hul ondersteuning aan die projek toegesê.
Veiligheidsplanne is reeds gereed. Geen drank sal by die ete toegelaat word nie, toegang word beperk en parkering word gereël.
Volgens die planne sal strate om Victoriapark gesluit moet word, maar alternatiewe roetes sal beskikbaar wees. Kennisgewings daaroor sal later adverteer word.
Sakeondernemings of vrywilligers wat betrokke wil raak kan kurkprop.promosies@gmail.com kontak.. Besoek www.wellingtonaantafel.co.za of die facebook blad: Wellington Aan Tafel – Wellington Unite vir nog inligting.