’n Deel van die klubhuis by die Pelikaanpark-sportterrein in Wellington is die afgelope naweek aan die brand gesteek. Foto: Rasaad Adams


Etlike maande nadat die Pelikaanpark-sportterrein in Wellington onder geweldige vandalisme en diefstal gebuk gegaan het, moes dié sportgrond die afgelope naweek nóg twee aanslae verduur toe sy klubhuis en pawiljoen aan die brand gesteek is.

In die een voorval Saterdag (5 Oktober) omstreeks 22:15 was ’n veiligheidswag glo in een van die klubhuis se kamers vasgekeer.

Hy moes om hulp skree en inwoners van Pelikaanstraat het tot sy redding gekom.

“Die veiligheidswag was in een van die vertrekke by die klubhuis toe hy glo gehoor het die veiligheidsdeur word toegemaak.

“Volgens hom het hy brandstof geruik en toe rook gesien. Dit is toe dat hy besef het die gebou is aan die brand gesteek en hy het toe geskree vir hulp,” het kol. Johan Barkhuizen, ’n polisiewoordvoerder in Wellington, by navraag gesê.

Nadere ondersoek het getoon ’n deel van die pawiljoen langs die klubhuis is aan die brand gesteek.

Volgens Barkhuizen is die sportterrein die volgende aand (6 Oktober) omstreeks 20:00 weer geteiken toe ses mans hierdie keer die klubhuis aan die brand gesteek het.

Hulle het te voet van die toneel af gevlug en is steeds nie aangekeer nie.

Die motief vir beide voorvalle is nog onbekend, maar die polisie vermoed wel dat dit met mekaar verband hou.

Die Wellington-polisie ondersoek twee sake van bra

Die Wellington-polisie ondersoek twee sake van brandstigting nadat ’n pawiljoen en ’n deel van die klubhuis in twee afsonderlike voorvalle aan die brand gesteek is. Foto: Verskaf

Eda Barnard, die Drakenstein-munisipaliteit se waarnemende uitvoerende direkteur vir gemeenskapsdienste, het die voorval ten sterkste veroordeel en gesê die munisipaliteit gee sy samewerking aan die polisie om die skuldiges aan die pen te laat ry.

Paarl Post het in Junie vanjaar berig dat daar in daardie stadium reeds ’n aantal aanslae op die sportveld was.

Oor die naweek van 8 Junie is ’n veiligheidswag, wat juis deur die munisipaliteit daar aangestel is om vandalisme en diefstal hok te slaan, in die nagtelike ure beroof.

’n Betroubare bron by die munisipaliteit het destyds aan Paarl Post gesê ’n aantal aanslae op die veiligheidswagte is sedert die begin van die jaar aangemeld.

“Daar is gevra dat minstens twee veiligheidswagte per nag by die veld patrolleer, maar daar is op die oomblik net een.

“Die persoon wat daai call kan maak, wil egter nie versterkings vra nie.

“Pelikaanpark raak ’n hotspot. Dit het nou gevaarlik geraak vir een veiligheidswag in die nag.

“Die mense word van hul besittings beroof en dikwels word hulle sommer met rewolwers in rooftogte gedreig,” het die bron aangevoer.

Die munisipaliteit het in daardie stadium gesê hy sal met verskeie rolspelers vergader.

“Ná die vergadering, wat op 6 Junie vanjaar met rolspelers gehou is oor vroeëre voorvalle van vandalisme, is ’n ooreenkoms bereik dat die munisipaliteit voortgaan om 24-uur-sekuriteitsdienste by die sportterrein te lewer.

“Daarbenewens is besluit dat die plaaslike sportklubs, sover moontlik, die munisipaliteit sal bystaan deur met hul lede in gesprek te tree en hulle aan te moedig om aan die beveiliging van die fasiliteit deel te neem,” het Barnard vandeesweek aan Paarl Post gesê.

Volgens Barnard word die veld se veiligheidshekke, deure, muurproppe en ander voorwerpe wat as skroot kan dien, voortdurend deur misdadigers geteiken.

You need to be Logged In to leave a comment.