Wellington Wolves se eerste vroue-krieketspan. Hulle is, agter van links, Francione Destroo, Petroné Theron, Helena du Toit, Zinadéne Adams (Kaptein), Mické de Kock, Cornelia Destroo en links voor is Shanoleen Adams, Tamia Williams, Britney v. Willingh en Micaela Ruiters.Foto: Darren Jacobs


Die Wellington-krieketklub, beter bekend as die Wellington Wolves, het vanjaar geskiedenis gemaak deur ’n vrouespan op die been te bring.

Volgens Warren Groeneveld, die voorsitter van die Wellington Wolves, is die vroue-krieketspan in Oktober gestig, en sedertdien het 19 vroue reeds by die klub aangesluit.

Die Wellington Wolves is geaffilieer by Krieket Boland en speel tans in die premier-A-liga.

Groeneveld sê dit verg drie senior spanne en ’n vrouespan om ’n premierligaspan te vorm. Die klub het in Augustus twee dae op sosiale media werwing gedoen, waar inligting met vroue gedeel is oor hoe hulle by die krieketklub kon aansluit.

“Ons eerste vrouelid, die kaptein, Zinadéne Adams, het op 17 Augustus geregistreer,” sê Groeneveld.

Hy sê die vroue-krieketspan het baie verbeter wat hul krieketvaardighede en kennis betref. Hulle kry goeie kans om in die nette te oefen en word deur die klub se vrywilligers afgerig.

Wellington se vroue-krieketspan het verlede naweek behoorlik op die hoogste oktaaf gesing in hul eerste amptelike wedstryd teen die Stellenbosch Cricket Club.

Die Wellington Wolves het die loot gewen en Stellenbosch is vir 54 lopies uitgeboul. Adams het behoorlik amok gemaak met haar boulwerk en drie paaltjies vir slegs 11 lopies in vyf beurte laat kantel. Micaela Ruiters het ook drie paaltjies vir 11 lopies in haar vier beurte geneem.

In Wellington se kolfbeurt het Helena du Toit die span na oorwinning gehelp deur 22 lopies (n.u.n.) van 38 balle aan te teken. Wellington het die wedstryd met agt paaltjies gewen.

You need to be Logged In to leave a comment.