Die belangrike rol wat die Wellingtonse Erfenis- en Omgewingsake-komitee in die ontwikkeling van die dorp speel, is in die jongste tyd vanuit verskeie oorde onderstreep.
Op die jongste maandvergadering van die komitee het die voorsitter, Lenize Gerber, lede se aandag gevestig op briewe wat in die jongste tyd in koerante verskyn het en waarin die Wellingtonse komitee by name uitgesonder is vir die rol wat dit in die ontwikkeling van die dorp speel.
Sy het gesê dat volgens ’n eertydse senior munisipale amptenaar wat tans op een van Wellington se buurdorpe woon, die werk van die plaaslike komitee vir enige buitestaander onmiddellik sigbaar is. Talle omliggende Wes-Kaapse dorpe beskik nie oor so ’n komitee nie en, anders as in die geval van Wellington, raak die tekens van agteruitgang en verval by elkeen van daardie dorpe by die dag duideliker.
’n Besoeker aan Wellington het ook onlangs in ’n brief aan ’n koerant gesê Wellington is een van die min plattelandse dorpe in die land waar jy onmiddellik kan sien dat die stryd teen agteruitgang nie alleen onverpoosd gestry word nie, maar dat die dorp beslis ook besig is om te wen.
Die komitee het op die vergadering ’n beroep op alle inwoners van Wellington gedoen om enige onwettige bouwerk in hul omgewing onmiddellik by die munisipaliteit aan te meld. Die klagte sal onmiddellik op die munisipale elektroniese klagtestelsel geregistreer word. Klagtes kan by 021 870 1567 gelê word. – Johan Nel