Wellington se eie blaasorkes, Pacific Brass Band, het in Stellenbosch geskitter.Foto:


Musikale klanke uit Wellington het verlede week by Coetzenburg in Stellenbosch tot die nodige atmosfeer bygedra by die amptelike verwelkoming van eerstejaarstudente aan die Universiteit Stellenbosch.

Dit was danksy die optrede van Wellington se eie blaasorkes, Pacific Brass Band.

Die blaasorkes se optrede was ’n heel gepaste verjaarsdaggeskenk vir die groep, wat in Januarie verlede jaar tot stand gekom het.

Die orkesleier is Andomonique Hartnick. Werner Trezires is die voorsitter en Ryno Hartnick die president.

“Ons het as ’n klein groep van 18 senior orkeslede begin en het intussen tot 68 lede van die ouderdom van nege jaar tot 38 jaar gegroei. Almal is van Wellington,” vertel Marlett-Rose Whittles, sekretaris van Pacific Brass Band.

“Ons visie is ’n innoverende en effektiewe orkes wat wye ondersteuning geniet en wat geleenthede aan almal bied, ongeag hul ouderdom, ras, geloofsoortuiging, geslag of moontlike gestremdhede,” noem sy.

Lede bied onderling vir mekaar musieklesse aan en die jonger groeplede kry veral leiding van die meer senior spelers.

Whittles voeg by: “Ons is nie net ’n orkes wat saam musiek maak nie; ons is soos ’n familie. Ons deel in mekaar se uitdagings en suksesse.”. Belangstellendes kan Andomonique Hartnick by 073 179 8142 of Werner Trezires by 082 617 2842 vir nog inligting oor Pacific Brass Band kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.