Die Wellington-rugbyklub is ná ’n moeilike paar seisoene in ’n herlewingsfase en ’n span wat al meer in rugbykringe bespreek word.
Die klub het aan die begin van 2022 net ’n handjievol spelers gehad en selfs gesukkel om slegs een volle span op die veld te stuur, maar met elke oefening en met die ophef van die covid-inperkings het meer spelers op die oefenveld aangetree.
Volgens Andries van der Merwe, die klub se voorsitter, was die manne lus om rugby te speel ná twee jaar se inperkings, en namate die passie en dryfkrag tot oorwinnings in hul voorbereidingswedstryde gelei het, het meer spelers aangesluit en dit neem steeds toe.
Met die harde werk agter die skerms deur die bestuurspan en die toewyding en goeie spel van die spelers op die veld is die Wellington-rugbyklub vinnig besig om die leer te klim ná hul gloriejare in die destydse premierliga.
Wellington het tot dusver hierdie seisoen 10 wedstryde gespeel en is nog onoorwonne in hul liga.
Volgens die afrigters, Chalwin Seroot en Jaco Stander, pak die Wellingtonse span elke wedstryd met dieselfde passie as die vorige wedstryd aan. Die wenkultuur heers ook nie net by hul eerste span nie; die tweede span vaar net so goed en hul grootste oorwinning tot dusver was 86-3 teen Mbekweni.
Morne Horne, die spanbestuurder, sê hoogtepunte van die seisoen tot dusver is die oorwinnings teen Newton Villagers (25-23) en Young Blues (23-18). Dié twee spanne is onderskeidelik tweede en derde op die streekuitdaagkompetisie se puntelys.
Francois Marais is tot dusver die speler wat met 65 die meeste punte vir die klub aangeteken het. Die voorlopers onder die driedrukkers is Brandon Cocklin en Geo van Niekerk, wat elk ’n prysenswaardige vyf drieë aangeteken het.


