In Maart 2018 gaan Wellington weer eens die trotse gasheer wees van die grootste bergfietswedren in die wêreld, die Absa Cape Epic.
Die amptelike Race Village, wat vanaf 22-25 Maart 2018 op Hugenote Hoërskool se skoolterrein gehou sal word, gaan besoek word deur 1 200 fietsryers van oor die wêreld heen asook ’n verdere 5 000 besoekers oor dié twee dae.
Die wêreld se oë gaan vir drie dae op hierdie pragtige dorp en omgewing gerig wees, dus moet die geleentheid ten allerbeste benut word.
Vanjaar vind die Cape Epic vir die vyftiende keer plaas.
Dit word beskou as die taaiste bergfietswedren ter wêreld.
Wellington het as gasheerdorp in 2016 (die laaste keer wat die Epic deur dié dorp gery het) gepronk toe hulle ná die wedren bestempel is as die beste gasheerdorp.
Daar sal verskeie toeskouer- en waterpunte wees. Hierdie punte is die heel beste plekke om die ryers aan te moedig terwyl hulle stilhou om vinnig iets te drink of te eet.
By hierdie punte sal daar ook vermaak vir toeskouers aangebied word asook eet- en drinkgoed.
Besonderhede van hierdie punte sal nader aan die tyd bekendgemaak word.
Maar, soos in die verlede, sal die hele dorp saamstaan om die dorp op te tooi met ’n fietsrytema om beide fietsryers en toeriste te begroet.
Daar sal ook kort voor die aankoms van die eerste fietsryers ’n groot optog deur die strate van Wellington wees met trompoppies, klopse, leerders en dies meer.
Vanjaar se Cape Epic skop op Tafelberg af en eindig 25 Maart by Val de Vie, net buite die Paarl.
Die plase in die Wellington- en Paarl-omgewing, waardeur die roete gaan loop, word eers in November bekendgemaak.
Annelize Stroebel, bestuurder van die plaaslike toerismevereniging van Drakenstein (DLTA) het gesê dat hulle baie opgewonde is om weer gasheer te speel vir die Epic-fietstoer.
“Wellington en Paarl verwelkom die Absa Cape Epic met ope arms volgende jaar hier in ons streek.
“Dit is ’n wonderlike geleentheid vir ons dorpe en entrepreneurs om die finansiële voordele wat so ’n groot geleentheid bied, te benut.
“Dit is beslis ’n groot finansiële inspuiting vir ons omgewing asook om die buitelandse toerismeblootstelling wat daarmee gepaard gaan, te kry.
“Fase vyf en ses gaan in die Wellington-omgewing wees.
“Die resies bied nie net die geleentheid om Wellington en Paarl as besoekers- en toeristebestemmings te bemark nie, maar ook om ons pragtige fietsryroetes en natuurskoon aan die wêreld bekend te stel.
Ons staan nie verniet bekend as die hart en pêrel van die Kaapse Wynlande nie.”
) Vir meer inligting oor die ABSA Cape Epic besoek die webtuiste by: www.capeepic.co.za.