Wellington Museum vier 40 gloriejare

In die 1950’s het daar gereeld pleidooie in die destydse “Wellington Bolander” weekblad verskyn vir ’n eie museum vir dié dorp. Uiteindelik is daar gehoor gegee aan die oproep vir ’n Wellington Museum toe dr. Owen le Roux die saak weer aangeroer het


In die 1950’s het daar gereeld pleidooie in die destydse “Wellington Bolander” weekblad verskyn vir ’n eie museum vir dié dorp. Uiteindelik is daar gehoor gegee aan die oproep vir ’n Wellington Museum toe dr. Owen le Roux die saak weer aangeroer het en ’n stigtingskomitee in 1969 byeengeroep het. Die Museumkomitee is gelas om ’n plan van aksie op te stel.

In hierdie stadium was daar reeds sprake dat die Sendingmuseum in Huis Samuel na Stellenbosch sou verskuif. Dit het ook so gebeur, maar ons kan uiteindelik ‘n sug van verligting slaak, want die kosbare versameling is (2016) terug in Wellington waar dit hoort. Daar is naarstiglik gesoek na ’n geskikte perseel vir ’n volwaardige museum. Daar is gekyk na ’n moontlike museum in Victoriapark, Goodnow Hall is oorweeg, Ferguson Hall was ’n moontlikheid en so ook Clairvaux, die ou Sendingpastorie in Hoofweg, die Burgerhuis in Pentzstraat en weereens Victoriapark.

Uiteindelik het Leoni van Niekerk tot die redding gekom en ’n gebou in Kerkstraat 54 beskikbaar gestel. Dit was oorspronklik die huis van Dr. Christy Beyers. Op Woensdag 1 Desember 1976 het die Museumkomitee onder voorsitterskap van Con Hofmeyr ’n deel van die gebou vir besoekers oopgestel.

Nog moeilike jare het gevolg tydens die soeke na permanente huisvesting. Daar was ook finansiële probleme wat oorkom moes word. Liefdeswerk in die museum is deur ’n vrywilliger, Oubaas Malan, verrig. Hy het as sekretaris opgetree en het ywerig gesoek na ‘n permanente plek. Dr. Owen le Roux, voorsitter van die destydse Beheerraad, het ook onverpoosd gewerk om die museum as provinsiaalondersteunend verklaar te kry.

Vanaf 1 Julie 1984 is Wellington Museum verklaar as ’n provinsiaal-ondersteunde museum. In daardie stadium was Wellington Museum die 38ste geproklameerde provinsiale museum in Kaapland.

Verskeie rolspelers het deur die jare heen onverpoosd gewerk om ’n permanente tuiste vir die Wellington Museum te vind.

In 1981 het H.R. Chamberlain van die Hugenote Hoërskool voorgestel dat die ou Skoolraadskantoor in Kerkstraat dalk die oplossing sal bied. Hierdie gedagte is ook ondersteun deur mnr. Etienne Smit, rektor van die Onderwyskollege.

Uiteindelik deur die bemiddeling van die destydse LPR, Johann von Wielligh, is die gebou aan die Museumraad verhuur.

Die gebou was egter te klein vir die omvang van die ryke Wellington-geskiedenis. Charl van Schoor van die SAD het tot die redding gekom en aangebied om die oortrokke rekening af te los onderhewig aan sekere voorwaardes.

LV Giel Malherbe het ook tot die stryd van die museum toegetree en uiteindelik het die blye dag aangebreek toe minister Adriaan Vlok op 19 Februarie 1993 laat weet het dat die perseel gratis aan die Stadsraad van Wellington oorgedra sou word.

Die gebou is verander, aanbouings is gedoen en ’n nuwe museumgebou het die lig gesien. Vandag huisves die museum die kultuurskat van die ou Seminarium, Andrew Murray-skatte, klipwerktuie, die sendingversameling, die geskiedenis van die droëvrugtebedryf, ’n unieke Egiptiese versameling en ‘n uitbeelding van die geskiedenis van Wellington en sy mense, naamlik “het lieve wellington”.

Op Donderdagaand, 17 November het ’n aantal eregaste die 40ste bestaansjaar van die museum gevier saam met die huidige Trusteeraad en die Vriende van Wellington Museum. Onder die gaste was enkele rolspelers wat ‘n groot aandeel gehad het aan die stigting van die museum.

Olivia le Cordeur (kurator) en haar assistente het ’n stylvolle aand aangebied. Die verrigtinge is afgesluit deur die pragtige sang van Jovan-ré Cupido.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.