Wellington-museum ondergaan transformasie

Die Wellington-museum het onlangs sy gedaanteverwisseling ten toon gestel. Pragtige baniere wapper voor die museum en beeld geskiedkundige gebeurtenisse uit. Die binnekant lyk ook nou anders.


Die Wellington-museum het onlangs sy gedaanteverwisseling ten toon gestel. Pragtige baniere wapper voor die museum en beeld geskiedkundige gebeurtenisse uit. Die binnekant lyk ook nou anders.

Die gasspreker, Anlen Boshoff, was nou betrokke by die herorganisering en interpretasie van die Egiptiese uitstalling by die Wellington-museum. Saam met die museumpersoneel en die uitstalkunstenaar is dié ou uitstalling ’n baie meer hedendaagse inkleding gegee. Die belangrikste aspek was om aan die publiek te verduidelik hoekom die spesifieke artefakte hier te siene is en om dit meer gebruikersvriendelik – veral vir skole – te maak.

Boshoff is ’n bekende in museumkringe. Sy was van 1986 tot 2005 in diens van die destydse SA Kultuurhistoriese Museum in Kaapstad, nou bekend as Iziko Museums van Suid-Afrika. Laasgenoemde het haar akademiese navorsingsveld geword.

Boshoff is ’n oud-Matie wat haar MA-verhandeling onder leiding van prof. Sakkie Cornelius by die departement antieke studie gedoen het oor baie vroeë Egiptiese keramiek in Iziko Museums se sosialegeskiedenis-versameling.

Oor die jare het sy ’n grondige kennis van museumpraktyke opgedoen wat haar ná 2005 in staat gestel het om as museumkonsultant vir verskeie erfenisinstansies op te tree. Boshoff is ’n stigterslid van die Egiptiese vereniging van Suid-Afrika en gee steeds lesings vir die organisasie.

Die Egiptiese versameling in die Wellington-museum het in 1948 in besit van die destydse Hugenote Universiteitskollege gekom deur die goedgunstige skenking van ’n sekere mej. E. Armistead van Engeland aan haar vriendin, ene mej. S. Stafford, wat van 1933 tot 1936 hoof van die Hugenote Universiteitskollege was.

Me. Armistead was ’n kenner van ou-Egiptiese en Mesopotamiese geskiedenis. Sy was ook deel van die ekspedisie van die bekende Egiptoloog prof. C. Leonard Wooley, van die Britse Museum. Hy was in 1930 deel van die ekspedisie na Mesopotamië wat uitgrawings naby Tell el Armana aan die oostelike oewer van die Nyl, ongeveer 450 km suid van Kaïro, onderneem het.

Die stad hier is deur Farao Amenophis IV (1377 tot 1360 vC) gebou teen die einde van die Agtiende Dinastie. Die museumartefakte is in hierdie gebied uitgegrawe.

Die uitstalling is aangepas om gebruikersvriendelik vir almal te wees. Dit dek veral die leerplan van gr. 5-leerders.

Die oggend is afgesluit met sop en toebroodjies terwyl almal gesellig verkeer het.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.