Groot opgewondenheid het onlangs by St Albans Primêr geheers toe die Wellington Minstrels-klopse-unie sy loting vir aanstaande jaar se nuwejaarskompetisie gedoen het.
Sestien troepe sal in 2019 aan die kompetisie deelneem.
Die unie het vier nuwe troepe bygekry wat bekend staan as die Caledonian Roses, voormalige kampioene wat nou weer terug is.
Hulle het die afgelope twee jaar by ’n ander unie deelgeneem. Daardie unie bestaan tans uit vier troepe en is besig om uit te sterf.
Dit is ’n uitgemaakte saak dat die gemeenskap hulle op groot opwinding kan voorberei. Die kompetisie gaan straf wees en word oor drie dae beslis.
Nuwejaarsdag (Dinsdag) is die groot dag. Daarna volg die tweede kompetisie Saterdag 19 Januarie en die eindronde Saterdag 2 Februarie.
Die spanne wat gaan deelneem is:
Petonians, Holywood, Disas, Panthers, Superstars, Dollars, Starlights, Uitsig, Young Stars, Broadway, Atlantic, Salberua, Lamco, All Stars, WFl united en Callies.