‘n Matriekleerder van Wellington, Armand Carstens (agter links), het vanoggend gesterf in ‘n motorongeluk in dié dorp. Hier is hy saam met sy gesin, pa en oud-Boland-rugbybaas, Cassie, broer Casey, voor is suster Bianca en ma Matty


Die gemeenskap van Wellington is geruk na Armand Carstens (19), ‘n matrikulant aan die Hugenote Hoërskool, in die vroeë oggendure in ‘n motorongeluk gesterf het.   

Volgens ‘n polisiewoordvoerder het die ongeluk het omstreeks middernag plaasgevind op die hoek van Kerk- en Cummingsstraat in Wellington, toe die bakkie waarin Armand en ‘n vriend gery het, gerol het. Armand is op slag dood.

Armand se pa Cassie was tot onlangs hoof- uitvoerende beampte van Boland-rugby voordat die gesin teruggetrek het na Kimberley van waar hulle oorspronklik afkomstig is.

Armand het  egter op Wellington agtergebly om sy skoolloopbaan hier te voltooi. Hy het by familievriende op ‘n plaas op die Perdeskoen gewoon. Die seuns was die aand van die noodlottige ongeluk onderweg na die plaas toe.

“Sy humorsin, vriendskap en sportmangees was besonders,” skryf Hugenote Hoërskool op hul Facebook-blad. “Ons sal hom altyd onthou op al die terreine waar hy betrokke was in Hugenote. Ons medelye aan sy familie en vriende in hierdie baie hartseer tyd.”

Armand word oorleef deur sy pa en ma Matty, broer Casey en suster, Bianca Buys. 

You need to be Logged In to leave a comment.