Wellington landboureus sterf

Jopie Steyn, bekende boer van Voor-Groenberg buite Wellington, is verlede week, knap voor sy 80ste verjaardag na ’n lang siekbed oorlede.


Jopie Steyn, bekende boer van Voor-Groenberg buite Wellington, is verlede week, knap voor sy 80ste verjaardag na ’n lang siekbed oorlede.

Jopie het jare lank baie suksesvol op die plaas Watervlei en op ’n paar ander omliggende plase tussen Voor-Groenberg en Soetendal en Bo-Hermon geboer – aanvanklik in vennootskap met sy tweelingbroer Hennie en in later jare saam met sy seun Johan.

Die twee Steyn-broers het deur die jare groot bekendheid dwarsdeur die Swartland geniet met die metodes wat hulle help verfyn het om koringverbouing in hul streek te ontwikkel. Aanvanklik het die twee broers saam ’n onderneming bedryf wat kontoere op die plase rondom hulle gebou het en later was hulle bekende pioniers in die bou van oopvoor-dreinering op Swartlandse koringplase.

Jopie was sy lewe lank bekend as iemand met buitengewone talente om masjienerie te herstel – van die tamaai dieselenjins van die skrapers wat hy en sy broer gebruik het om waterbane en kontoerwalle op plase te bou tot die enjins van sy privaat-voertuie.

Hierdie kennis het hom uiteindelik baie goed te staan gekom toe hy en sy eggenote, Wilna, tussen 1995 en 2001 drie keer met ’n viertrekvoertuig die Afrika-kontinent oorgesteek het om in Europa en in Brittanje te gaan kuier.

Op een van die ritte het hulle vanaf die mees suidelike punt van Afrika tot by Noordkaap, die mees noordelike punt van Europa, gery. In 1997 het Jopie besluit hy en Wilna moet met hulle Land Rover deur Afrika reis om die vyftigste bestaansjaar van die Land Rover-fabriek in Brittanje saam met ander Land Rover-entoesiaste te gaan vier.

In 2006 het Jopie en Wilna met ’n viertrekvoertuig vanaf Europa al teen die Weskus van Afrika na Suid-Afrika gereis. Hulle het die bekende Dakarroete vir ’n end gevolg. Diep in die hart van Afrika het hul voertuig se onderstel, na ’n rowwe rit oor ’n steil bergpas gebreek. Jopie het ’n stuk yster op die afgeleë dorpie waar hulle gestrand gesit het in die hande gekry. Met dié stuk yster en die sweismasjien wat hy altyd saam met hom op sy reise geneem het, het hy vingeralleen die onderstel, wat aan die een kant van die voertuig morsaf en aan die anderkant lelik gekraak was, binne ’n dag herstel.

Volgens sy familie was Jopie sy lewe lank iemand wat voortdurend nuwe grense in homself oorgesteek en nuwe hoogtepunte in sy lewe bereik het. Hy het ook oor die gawe beskik om die mense om hom te help om steeds groter en wyer te dink en om voluit te leef. Hy word oorleef deur sy vrou Wilna, drie seuns, Johan, Conrad en Joachim, sy dogter Dalene en sewe kleinkinders. ’n Troosdiens vir sy familie en vriende word op Maandag 17 April om 15:00 in die NG Kerk Wellington-Noord gehou. Dit is ook die dag waarop hy sy 80ste verjaardag sou gevier het.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.