Wellington kraai weer koning as Epic-gasheer

Die Bolandse dorpie Wellington in die Drakenstein-vallei het onlangs wêreldwye aandag geniet toe dit aangewys is as die “dorp met die beste gees” en “beste oornagplek” vir die 2018-Absa Cape Epic.


Die Bolandse dorpie Wellington in die Drakenstein-vallei het onlangs wêreldwye aandag geniet toe dit aangewys is as die “dorp met die beste gees” en “beste oornagplek” vir die 2018-Absa Cape Epic.

Hierdie titels het Wellington stewig gevestig as ’n ideale sportbestemming en het weereens bewys dat sporttoerisme ’n wesenlike impak op die plaaslike toerismebedryf kan maak.

Die dorp het organiseerders, deel­nemers en ondersteuners behoorlik met sy ongekende gasvryheid en diverse toerismeaanbiedinge bekoor.

Die dorp het die rooi tapyt onder die leiding van die Wellington-kantoor van Drakenstein se plaaslike toerisme­vereniging vir hierdie toonaangewende internasionale sportgeleentheid uitgerol.

’n Kleurvolle straatparade is aangebied om die fietsryers te verwelkom, die dorp is in die amptelike Cape Epic-kleure getooi en vier fases van dié bergfietsren is in en om Wellington aangebied met etlike uitkykpunte vir toeskouers oral met die Wellington-wynroete langs. Die ampte­like prysuitdelinggeselligheid het was op ’n plaaslike Wynlandgoed.

Volgens Annelize Stroebel, hoof­bestuur­der van Drakenstein Toerisme, is hierdie erkenning van onskatbare waarde wat betref die bemarking van Wellington as ’n toerismebestemming. “Dit was gewis welverdiend en die inwoners van Wellington kan met reg trots wees op hierdie prestasie. Duisende besoekers het die geleentheid gehad om te ervaar wat Wellington so ongelooflik maak en ek is oortuig dit sal ’n positiewe invloed op ons toerismebedryf hê. Dit het weereens bewys dat sport­toerisme uiters suksesvol ingespan kan word om ’n bestemming te bemark en terselfdertyd ook ’n beduidenswaardige ekonomiese impak te lewer sowel as om ’n aansienlike bydrae tot die plaaslike gemeenskap te maak,” sê Stroebel.

Etlike plaaslike welsynsorganisasies soos die G Voucher Project, Norsa Gemeenskapsorg en Ma’s vir Wellington is deur daaglikse kosskenkings of geldbydraes bevoordeel om hul voortgaande werk in die gemeenskap te ondersteun.

“Hierdie sportgeleentheid was ’n uitstekende platform om Wellington se geskiktheid as gasheer van ’n wêreldklas-geleentheid te beklemtoon en ons hoop dat dit soortgelyke geleenthede in die toekoms sal lok.

“Ek wil die Wellington-gemeenskap graag bedank vir hul ywerige deelname en heelhartige ondersteuning, wat gehelp het om so ’n fantastiese indruk op ons Epic-besoekers te maak. Dít is die gees van #heartwellington,” reken Stroebel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.