Die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT) se Wellington-kampus het ’n memorandum van verstandhouding met onder meer die Drakenstein-gevangenis onderteken om sy studente by uitreikingsprojekte by hierdie gevangenis te betrek.


Die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT) se Wellington-kampus het onlangs ’n advieskomitee gestig waardeur hy graag insae vanaf strategiese belanghebbendes binne die gemeenskap wil kry om sodoende te verseker dat sy verhouding met alle Wellingtonners verder uitgebou en gekoester word

Só het prof. Hanlie Dippenaar, verbonde aan die kampus se onderwysfakulteit, dié samewerkende inisiatief aan Paarl Post beskryf.

Volgens Dippenaar bied die Wellington-kampus sekere geografiese uitdagings omdat dit sowat 60 km van die administratiewe kampus in Bellville geleë is.

Sy sê hierdie inisiatief is daarop gemik om sommige van die uitdagings aan te spreek.

“Ná ’n paar probleme wat ons in die verlede ervaar het met onluste en een van ons geboue wat afgebrand het, was daar ’n groot behoefte by die bestuur dat ons kampus in Wellington uitreik na die gemeenskap.

“Daar was ’n behoefte dat ons moet hande vat en kyk hoe ons kan saamwerk. Hierdie soort van ’n ‘forum’ is gestig waar ons raad en insig vanaf die Wellington-gemeenskap kan kry en ook ons idees met hulle kan deel.

“Ons het mense probeer identifiseer van verskillende forums en organisasies en daar is eintlik nog heelwat werk wat voorlê. Ons probeer nog kyk wie ons kan betrek.”

Van die organisasies en individue wat reeds by die advieskomitee betrek is, sluit in Avron Apollis, die Drakenstein-munisipaliteit se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, Francois Theron van Wellington Aksie Groep (WAG), asook die Breytenbach-sentrum wat oorkant die KSUT-kampus in Wellington geleë is.

Dippenaar sê die idee is dat die advieskomitee minstens twee keer ’n jaar byeenkom.

“Ons het nou die dag ons tweede vergadering gehou en dit sommer saamgevoeg met die ondertekening van ’n memorandum van verstandhouding met die Drakenstein-gevangenis.

“Ons werk al ’n hele ruk saam met die Hawequa-jeuggevangenis in Wellington waar ons studente die jeugdiges daar bystaan in vakke soos wiskunde, Engels en Afrikaans.”

Dippenaar sê die idee is dat hul studente ook op ’n soortgelyke wyse by die Drakenstein-gevangenis betrokke raak.

“Dit is vir ons baie belangrik dat studente ook leer hoe om goeie burgers van hierdie samelewing te wees en hulself op hierdie wyse ontwikkel. Al ons fakulteite is dus by hierdie gemeenskapsinisiatief betrokke.”

You need to be Logged In to leave a comment.