Gavin Watson (regs) bekende Wellingtonse dahliakweker, is verlede Saterdag by die nuutste dahlia-skou in die Wellingtonse stadsaal as algehele wenner aangewys. By hom is Bennie Davey, voorsitter van die Wellingtonse Dahlia-vereniging. Foto: Johan Nel


Besoekers het die afgelope Saterdag vol verwondering na die pragtige dahlias gekyk wat by die nuutste skou van die Wellingtonse Dahlia-vereniging te sien was.

Die Dahlia-skou is vanjaar oorheers deur ’n aantal blomme wat spesiaal met groot sorg deur die lede van die Wellingtonse vereniging gekweek is.

Gavin Watson, bekende Wellingtonse kweker, se uitsonderlike dahlias het gesorg dat hy as die algehele wenner by die skou aangewys is.

Volgens die Wellingtonse museum was die Wellingtonse dahliakwekers tot 1992 deel van die Wellingtonse Tuinbou- en Krisantevereniging. Die verskille tussen die groeiperiodes van dahlias en krisante het die lede in daardie jaar gedwing om in twee afsonderlike verenigings te verdeel wat twee afsonderlike skoue elke jaar reël.

Dahlias het ’n kort groeiseisoen van slegs drie maande en hulle skou vind jaarliks teen die einde van Januarie of begin Februarie plaas. Die krisante het ‘n veel langer groeiperiode van nagenoeg nege maande en hulle skou vind elke jaar in Mei plaas – vanjaar word dit 6 Mei gehou.

Die veel ouer Krisante-vereniging waaruit die Dahlia-vereniging ontwikkel het, het verlede jaar sy 100ste bestaansjaar gevier.

Albei verenigings het in Wellington ontstaan en verteenwoordig ’n groot groep van Wellington se mense se strewe om ’n eie, unieke stempel op hul omgewing af te druk.

You need to be Logged In to leave a comment.