Wellington groet ’n groot seun

Sondag 20 November het Wellington en die Verenigende Gereformeerde kerk in SA afskeid geneem van een van haar baanbrekerseuns, prof. Johannes (Hannes) Cornelius Adonis.


Sondag 20 November het Wellington en die Verenigende Gereformeerde kerk in SA afskeid geneem van een van haar baanbrekerseuns, prof. Johannes (Hannes) Cornelius Adonis.

Hannes, soos hy algemeen bekend was, is op 19 April 1942 te Kaapstad gebore maar het op Wellington grootgeword. Hy kom van die plaas Koeikraal aan die bopunt van Kerkstraat.

Hy was by St. Albans Primêr waar die basis gelê is vir ’n baie suksesvolle akademiese loopbaan. Hy het by Hoërskool Wellington (vandag Bergrivier Sekondêr) gematrikuleer. Dit is in dié tyd dat hy bekend gemaak het dat hy hom graag as predikant wil bekwaam.

’n Plaaslike koerant het toe berig oor die 17-jarige “kleurling seun” wat die begeerte het om teologie te wil gaan studeer.

Ene ds. Du Toit het die berig gesien en hom ontferm oor die jonge heer. Hannes was by die teologiese skool van die NG Sendingkerk (vandag VG Kerk in SA), wat op die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland gevestig was. In 1974 verwerf hy ook ’n BA teologie van Unisa.

Vir sy verdere akademiese kwalifikasies skryf hy hom in by die Vrije Universiteit van Amsterdam in Nederland waar hy in 1978 die Doctorandis in Teologie verwerf. In 1982 het hy doktor in teologie geword met die verhandeling onder die titel: “Die afgebreekte Skeidsmuur weer opgebou”, wat ook in boekvorm verskyn het.

Hannes was die predikant van die destydse NG Sendingkerk. Hy was ook ’n professor aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

Met die samesmelting van die teologiese fakulteite van UWK en Universiteit Stellenbosch was hy van 2000 tot sy uittrede aan die einde van 2005 professor aan die teologiese fakulteit van Stellenbosch en doseer kerkreg en kerkgeskiedenis.

Hoewel hy op 1 Januarie 2006 met pensioen afgetree het, het prof. Adonis steeds as predikant by die Protestante Verenigende Kerk in Ravensmead diens gedoen.

Hy was getroud met Elizabeth (Bettie) van der Westhuizen van Newtown. Die gesin het ’n seun, Johann en twee dogters, Leandra en Graciela.

Prof Adonis is op 14 November oorlede in die ouderdom van 74.

“Wellington is trots op die seun wat so ’n besondere bydrae gelewer het in die kerk van Jesus Christus. Hy is verder ’n bewys dat jy bo jou omstandighede kan presteer. Ons eer sy nagedagtenis.”

* Saamgestel deur Jack Abrahams en Herman Bailey.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.