Die paneel (regs) is, van links: Daniel Serman, 'n bemarker by Six Gun Grill, Stephen Korabie, Drakenstein se burgemeester, Nico Burger, adjunkhoof van die Hugenote Hoërskool, en Duitser Bosman, stigter van die toernooi. Heel links is Lucian Cupido, een van die toernooi organiseerders, wat die gesprek fasiliteer het. Foto: Rasaad Adams
Die paneel (regs) is, van links: Daniel Serman, ‘n bemarker by Six Gun Grill, Stephen Korabie, Drakenstein se burgemeester, Nico Burger, adjunkhoof van die Hugenote Hoërskool, en Duitser Bosman, stigter van die toernooi. Heel links is Lucian Cupido, een van die toernooi organiseerders, wat die gesprek fasiliteer het. Foto: Rasaad Adams

Die Hugenote Hoërskool in Wellington sê hy is gerat en voel geëerd om vanjaar weer die gasheer vir die tweede Six Gun Grill Summer Sport Festival te wees, wat altesaam 97 skole en meer as 4 000 deelnemers na die dorp gaan lok.

Dié skolesport-byeenkoms, wat vanjaar van 3 tot 10 Desember plaasvind, word beskou as die tweede grootste van sy soort, naas Wildeklawer, en sluit vanjaar onder meer rugby, netbal, hokkie, tennis, krieket, gholf en atletiek in.

Daar is ook groot opwinding oor die toevoeging van skaak en karate tot die lys sportsoorte.

Duitser Bosman, een van die toernooi se medestigters, het Maandag (17 November) op ‘n mediakonferensie by die Hugenote Hoërskool in Wellington gesê die sukses van verlede jaar se eerste byeenkoms het gewys dat dit moontlik is om hierdie tyd van die jaar skolesportgeleenthede te hou.

“Ons was van die begin af bewus van die moontlike uitdagings om ‘n sport- toernooi in Desember te reël. Ons beskou dit egter as ‘n gulde geleentheid vir skole om vroeër vir aanstaande jaar se seisoene voor te berei.

“Dit is ‘n geleentheid wat skole struktuur gee vir die jaar wat kom.

“Ek het al uit ervaring gesien hoe skole, wat vroeër met hul voorbereiding begin, gewoonlik baie beter presteer. Ons beskou hierdie dus regtig as ‘n voorsei- soen,” sê Bosman.

“Hierdie jaar gaan die krieket ‘n behoorlike hoëprestasiekompetisie wees,” het hy bygevoeg.

Stephen Korabie, die Drakenstein-munisipaliteit se burgemeester, het ook Maandag se bekendstelling bygewoon.

Hy het op sy beurt gesê “die munisipaliteit is bevoorreg om in ‘n posisie te wees waar hy ruimte en geleenthede vir ons mense [skep] om te kan floreer”.

“Sport is die hartklop van Drakenstein. Naweke gons ons dorpe van al die sport- aktiwiteite. Dinge gebeur hier en dit is juis omdat ons die geleenthede daarvoor skep. Ons sien die rol wat dit speel in veral mindergegoede gemeenskappe, waar dit ‘n middel is om kinders uit die straat en uit die moeilikheid te hou.”

Vanjaar se byeenkoms gaan ook ‘n feesterrein bied met optredes deur plaaslike sowel as nasionale kunstenaars.

• Kaartjies vir toegang tot die terrein sal teen R50 per dag verkoop word. Toernooi-kaartjies sal teen R90 te koop wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article