Die strate van Wellington sal weer stil-stil die nuwe jaar ingaan – in die afwesigheid van die vrolike passies en ritmes van die tradisionele klopse-vertonings.
Geen Drakenstein-klopsevereniging het vanjaar aansoek gedoen om oudergewoonte die nuwe jaar in te lei met sang en dans deur die strate van Wellington tot by die Boland-stadion nie – alles weens bendegeweld.
Verlede jaar is die klopse se vertonings ook gestaak weens die toename in ernstige bendegeweld in verskeie gebiede van Wellington.
’n Bron betrokke by die klopse-unies, wat weens die erns en sensitiwiteit van die situasie anoniem wil bly, het bevestig dat verskeie rolspelers besluit het om nie met die jaarlikse klopse-kompetisie voort te gaan nie.
Die feestelike klanke van die klopse in Wellington is ’n jarelange tradisie wat op Tweede Nuwejaar begin en die hele Januarie voortduur.
Maar die toename in bendegeweld, asook bendelede wat self klopse-kunstenaars is, het hierdie tradisie tot stilstand gedwing.
Voorheen was daar verskeie voorvalle waartydens klopse-musikante se instrumente gesteel is wanneer hulle onderweg was na oefensessies en in van hierdie voorvalle was geweld ook betrokke.
Paarl Post se bron sê die klopse-vertonings sal wel in Kaapstad voortgaan omdat ’n “skietstilstand” tydens die feestyd tussen bendelede plaasvind, maar ongelukkig nie in die Drakenstein-vallei nie.


