‘n Verstikkende rookkombers hang steeds oor Wellington en die Paarl terwyl die verwoestende vlamme teen Groenberg se hange voortwoed. Die inferno, wat Dinsdagmiddag (18 Januarie) losgebars het, tart steeds brandbestryders se pogings om dit te tem – ‘n vlammende monster wat weier om mak te word.
Die brand het op die Oaklands-landgoed op die hange van Groenberg ontstaan.
Die brand het tot op hede oor die 500ha plantegroei, onder meer wingerde en ander oeste verwoes, asook ’n huis op die Langkloof Roses gasteplaas en funksielokaal waarin Tina Kotze (46), en haar man Charles (47), gewoon het.
Paarl Post het die plaas besoek, en was gegroet deur swart besmeerde bloekombome en ’n huis wat in puin gelê het waar dit tot op die grond afgebrand het.

Volgens Tina het hulle aanvanklik gedink hulle, hul honde en duiwe is veilig met die aankondiging van die brand.
Nietemin, om middernag Dinsdagaand was die vlamme so te sê op hul agterstoep soos wat dit binne sekondes deur die bloekombome agter hul huis versprei het.

Tina en Charles het net vir vyf maande daar gebly en was nog besig om hulself te vestig.
“Gelukkig het ons vroeër daardie aand ons honde na ’n familielid se huis in Wellington geneem,” het Tina gesê.
Hul kon hul vliegduiwe egter nie betyds red nie, het Tina gesê.
Met net die klere aan hul rug het Tina en Charles in hul bakkie geklim en weggery terwyl hul toegekyk het hoe hul huis en al hul besitting vlamvat.
Charles se gimnasium wat reg langs hul huis geleë is, het wonderbaarlik bly staan wat ’n greintjie hoop bied omdat hy steeds ’n inkomste kan genereer.

Tina, wie ook van die huis af gewerk het, se studio met alles daarbinne insluitend haar naaldwerkmasjien en kunsgereedskap wat sy op ’n daaglikse basis as ’n tekstielontwerper gebruik het, is egter verwoes.
Sy het ook kuns- en dansklasse aangebied.
Antieke meubels met sentimentele waarde wat sy van haar ma, sowel as haar skoonma geërf het, het ook in die slag gebly.
Dit sluit in ’n klavier, ’n klein orrel asook breekware.
Volgens Tina kon die brandweer nie betyds opdaag om hul huis te red nie, want hulle het “letterlik nie geweet watter vure om eerste dood te slaan nie”.
Met die hulp van gemeenskapslede kon die plaas immers die vlamme beheer totdat brandbestryders opgedaag het om dit te blus.
Volgens haar is sy bly niemand is in die voorval beseer nie, en dat sy en haar man ten spyte van hul verlies positief bly en geliefd voel deur die Wellington-gemeenskap wat reeds verskeie items, soos klere en huisware geskenk het.
’n Back-A-Buddy profiel is ook vir die Kotze-egpaar van stapel gestuur waar geldelike donasies gemaak kan word met die doel om ’n R100 000 in te samel.
Die Kotzes moet nog vasstel of hul versekering hul eise sal aanvaar.
Die egpaar beplan om vir tyd en wyl in Charles se gimnasium te bly totdat ’n permanente oplossing gevind word.
Die brand woed tans in Slangrivier en die Bo-Hermonpad, volgens die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM).
Volgens ’n brandverslag wat om 06:00 deur die KWDM gestuur is, is die ’n Black Hawk helikopter gister ontbied.
Die Paarl Post verneem ook dat ’n tweede helikopter vir minstens twee ure ontplooi was nadat die landbou-gemeenskap ’n noodfonds gestig het om daarvoor te betaal.
“Daar is 10 voertuie en bemanning van die KWDM, bygestaan deur twee voertuie van Drakenstein-munisipaliteit, grondspanne van NCC Wildfires, Lewis Bush Clearing and Alien Firefighting, en Cape Nature se gekontrakteerde grondspan, Working on Fire,” luidens KWDM se verslag.
Die Paarl Post het verskeie kere uitgereik na die Oaklands-gasteplaas, maar geen kommentaar ontvang nie.
You must be logged in to post a comment.