Danielle Nyman toe sy in Julie met Paarl Post gesels het. Foto: Rasaad Adams

‘n Wellingtonse man, wat op aanklagte van poging tot moord teregstaan nadat hy glo ‘n vlambare middel op sy vrou gegooi en haar aan die brand gesteek het, sal na verwagting in Desember op die aanklagte skuld beken, wat gevolglik sal beteken dat dié saak nie op verhoor gaan nie.

Ryland Nyman (43) het verlede week weer voor die Paarl-streekhof verskyn waar aangevoer is dat sy nuut-aangestelde regsverteenwoordiger en die staat nog besig is om die pleitonderhandelinge te finaliseer.

Hy het tydens sy verskyning op 24 Augustus aangekondig dat hy van ‘n nuwe regsverteenwoordiger gebruik gaan maak.

In Suid-Afrika is die minimun vonnis vir poging tot moord in die geval van ‘n eerste oortreder vyf jaar.

‘n Langer vonnis kan wel toege- ken word, afhangend van die erns en omstandighede van die beweerde misdaad.

Die voorval het op 11 Oktober verlede jaar by die paartjie se huis in Wellington plaasgevind.

Nyman en sy vrou, Danielle, was vir 10 jaar getroud, maar is al langer as 20 jaar ‘n paartjie.

Sy is ‘n sekretaresse by die St. Albans Primêre Skool in Wellington.

Sy het in Julie vanjaar met Paarl Post oor die emosionele en finansiële letsels ná die voorval gesels.

Sy was verlede jaar ná die voorval lank in die hospitaal en is steeds op die herstelpad weens die erns van die brandwonde aan haar gesig en bolyf.

Sy dra tans ‘n masker om haar gesig en spesiale mediese kleding-

stukke wat die herstel van haar vel en bloedsirkulasie bevorder.

Sy het in Julie aan die koerant gesê haar raad aan vroue in soortgelyke situasies is “om nie bang te wees om uit te praat nie”.

“Terwyl ek in die hospitaal gelê het, kon ek nie help om ‘n traan te stort toe ek foto’s sien van mense wat buite die hof betoog het nie.

“In daardie stadium het ek besef daar is werklik so baie ondersteuning – ondersteuning van mense wat ek nie eens ken nie.

“Ek dink daar is so baie vroue wat in hul verhoudings vasgevang voel. My boodskap aan hulle is om hul stemme te laat hoor – hulp is beskikbaar en hoef nooit te laat te wees nie,” sê sy.

Nyman bly in aanhouding tot sy volgende verskyning op 8 Desember.

You need to be Logged In to leave a comment.