Jacques Retief, ’n Wellingtonse boer en eienaar van die plaas Hexenberg, net buitekant die dorp, is die naweek skielik op 60-jarige ouderdom oorlede.
Volgens sy vrou, Madelein, het Jacques spesiaal verlede week na Secunda in Transvaal gevlieg om saam met sy twee seuns, Pieter en Hendrik, wat op Secunda werk, ’n geselligheid by te woon van ’n neef wat binnekort trou.
Jacques het saam met die jong manne by ’n dam naby Secunda uitgekamp.
Terwyl die ander gaan swem het, het Jacques in die kamp agtergebly. Hy het na die ablusiegebou gegaan en toe die jongmense terugkom het hulle hom in die gebou op die vloer aangetref.
Hy is deur sy neef – ’n mediese dokter in die omgewing wat ook die geselligheid bygewoon het – ondersoek en dood verklaar.
Retief het oënskynlik aan ’n hartaanval beswyk.
Hy word oorleef deur sy vrou, Madelein, en hul twee seuns wat albei as ingenieurs op Secunda werk.
’n Gedenkdiens word vandag (8 September) in die NG Moederkerk op Wellington gehou.