Knus teen die voet van die Hawekwa-berge lê die versteekte Bolandse dorp Wellington – die wynlande se besbewaarde geheim wie se deure nou wawyd oopstaan.
Wellington is inderdaad ’n juweel met beeldskone natuurprag, ’n diep geykte geskiedenis en ’n volwaardige wynstreek wat wyn by uitstek produseer.
Wellington kan beskryf word as die hart van die Kaapse wynlande.
Die vroeë Hollandse inwoners van die Kaap het dié streek aanvanklik Wamakersvallei gedoop voordat dit later Val du Charron onder die Franse geword het – al twee verwysend na die wamakersbedryf. Wellington is gedoop na die Duke of Wellington wie Napoleon verower het en dus ’n einde gebring het aan die Napoliaanse-oorlog.
Dié dorp was destyds die poort na die binneland, toe die roete van die Kaap verder noord gestrek het na ’n ontdekkingsreis van die res van Suid-Afrika.
Wellington het ’n ryke geskiedenis en volop tradisies met families wat geslagte lank reeds plase in die omgewing bewerk. Die dorp is geleë aan die voet van die historiese Bainskloofpas aan die oewer van die Krommerivier.
Wellington sal jou beïndruk deur die asemrowende skoonheid van die omgewing, die rykheid van sy mense, die topgehalte wenwyne en ’n groot verskeidenheid ander besienswaardighede en aktiwiteite.
Wellington is in 2012 ’n afsonderlike wyndistrik verklaar wat Wellingtonse wynprodusente die reg gee om Wyn van Oorsprong Wellington (WOW) op hul etikette aan te bring. Kortliks, Wellington is die geskikte streek vir wynliefhebbers en vandag is die dorp dié plek om jou wynproe-ervaring te begin.
Die wynroete bestaan uit lede wat die volle spektrum van wynervarings bied – boetiekkelders, groot produsente, garagiste en brandewynprodusente – almal binne kort afstande van mekaar.
Die wynroete het die afgelope aantal jare talle wynpryse gewen – plaaslike sowel as internasionale wynkompetisies, onder meer Absa se top-pinotages, verskeie Decanter-, Veritas- en Michaelangelo-pryse, asook twee vyfsterpryse van Platter.
Wellington is bekend vir die kweek van wingerdstokke en meer as 80% van alle basisstokke word hiér gekweek. Dus weet die wingerdboere hiér hoe om net die beste uit die wingerde te kry.
Dis oor die algemeen ’n warm streek, hoewel daar koel dele in die berge en vallei is.
Benewens die groot wynprodusente is daar talle klein kelders wat op die Wellington-wynroete aangetref word. Hiér is ’n wye verskeidenheid style en prysklasse. In die algemeen groei die meeste kultivars hiér baie goed, maar veral staan die chenin blanc, shiraz en pinotage uit.
Elke wyn is ’n selfportret van ’n wingerd. Die druiwe, in unieke omstandighede gevorm, word in die kelder begelei om iets eie van sy oorsprong te vertolk.
Die Wellington-wynstreek is geseën met ’n unieke verskeidenheid terroir, grondsoorte, klimaatstoestande en ander voordelige faktore wat bydra tot wynbou. Hierdie staan behoorlik uit by die wyne van die verskeie kelders.
Uiteenlopende grondsoorte speel ook ’n belangrike rol. Hoewel Wellington in die kusstreek val, het die gebied ook sy eie persoonlikheid, met wynmakers wat baie sukses het. Die streek baat baie by hoogliggende wingerde in berggrond.
Vroeër bekend vir sy robuuste style, sien die gebied se elegante chenin blanc nou die lig en geniet wêreldwyd erkenning.
’n Variërende landskap skep mikro- en mesoklimate. Die grond, klimaat en ekologiese faktore speel ’n groot rol om die wyne van die streek te definieer omdat elkeen van dié faktore ’n invloed op die wyn se karakter kan hê. Die natuur het die grootste inspraak om die gebied se eiesoortige wyne te produseer.
Dus kan een wingerd byvoorbeeld handomkeer van die wingerd langs hom verskil en ’n heeltemal ander styl oplewer.
Wanneer kultivars soos pinotage, malbec, shiraz en chardonnay in die gesprek opduik, sal jy gereeld hoor dat die beste voorbeelde uit Wellington afkomstig is.
Buiten die kelders is daar baie aktiwiteite wat in en om die dorp plaasvind.
Daar is talle gastehuise waar besoekers kan oorbly en volop restaurante om die eetlus te demp.
Kom geniet dus Wellington se veelbekroonde wyne, plaaslike cuisine, diepgewortelde geskiedenis en die dorp se plattelandse gasvryheid.