Cape Nature het ’n beroep gedoen op stappers wat van sy staproetes in Du Toitskloofpas gebruik maak om waaksaam te wees te midde van ’n toename in diefstal uit voertuie die afgelope paar maande.
Cape Nature sê hy werk nou saam met die polisie en plaaslike wetstoepassers om die pas te beveilig te midde van die inbrake by voertuie wat helder oordag gepleeg word.
Die afgelope Sondag (2 Februarie) het inwoners hul woede uitgespreek toe ’n foto gedeel is op een van die Paarl Facebook-groepe wat wys hoe by ’n aantal voertuie by die Miaspoort-staproete ingebreek is.
Kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder vir die Paarl-polisie, kon nie bevestig by presies hoeveel voertuie Sondag ingebreek is nie.
Volgens haar word verskeie sake van diefstal wel deur die polisie ondersoek en is eiendom soos diensboeke, ’n domkrag, kosblikke en selfone uit die voertuie gesteel.
Niemand is nog ná Sondag se voorvalle in hegtenis geneem nie.
Petro van Rhyn, Cape Nature se woordvoerder, het by navraag aan Paarl Post gesê hoewel hulle in dié stadium nie ’n spesifieke syfer kan gee nie, was daar oor die afgelope paar maande ’n aansienlike toename in diefstal in die pas.
“Wat hierdie spesifieke voorval betref, is ons deur ’n Facebook-plasing daarvan verwittig. Ons veldwagters het die gebied in die oggend gepatrolleer, maar in daardie stadium was daar geen aktiwiteite nie.
“Te midde van die afgelope paar maande se voorvalle werk ons baie nou saam met die polisie en wetstoepassers. Ons vergader weekliks met die polisie en ander rolspelers oor hoe om die gebied te beveilig.
“Ons het gevolglik die aantal veldwagters wat in die pas en by die staproetes patrollie doen, in samewerking met die plaaslike polisie, die Drakenstein-munisipaliteit se wetstoepassers, asook provinsiale verkeersdienste vermeerder,” het Van Rhyn gesê.
Van Rhyn het besoekers aan die pas gevra om die nodige veiligheidsmaatreëls toe te pas.
“Maak seker dat alle waardevolle artikels veilig gestoor en buite sig is wanneer jy iewers in die pas parkeer, en wees altyd waaksaam.
“Hou Cape Nature se nood-kontakbesonderhede byderhand en meld enige misdadige aktiwiteit onmiddellik by die polisie aan.
“Maak seker dat jy ’n vriend of familielid oor jou ligging ingelig het en gebruik ook nasporingsdienste soos @safetymountain – dis ’n gratis toepassing. Probeer om in ’n groep te stap en nie alleen nie.”