Dit is daardie tyd van die jaar wanneer mense se goedhartigheid die beste na vore kom – wanneer mense graag na minderbevoorregtes en veral kinders uitreik om die feestyd vir hulle ’n bietjie meer spesiaal te maak.
Vir baie beteken Desember Kersbonusse wat uitbetaal word of ’n welverdiende vakansie waarvoor hulle die hele jaar met geld waarvoor hard gewerk is, gespaar het. Dit is ongelukkig ook dié tyd van die jaar wanneer bedrieërs die meeste toeslaan.
PaarlPost waarsku partymaal week ná week inwoners om nie die slagoffer van ander se skelmstreke te word nie en ontbloot dikwels ook die mense wat hulle aan hierdie misdadige gedrag skuldig maak. Tog trap mense steeds in die strik.
Dit is egter veral nou die tyd om ekstra versigtig te wees. Dié wat gelukkig genoeg is om laasteminuutverblyf iewers te kry – maak seker die plek bestaan en die een wat die verblyf aanbied, is wie hy sê hy is. Gaan lees die resensies van mense wat voorheen van die verblyfopsie gebruik gemaak het.
Dieselfde geld vir aanlyn aankope. As iets teen buitensporige afslag geadverteer word op ’n webwerf waarop jy nog nie voorheen iets bestel het nie, doen eers jou huiswerk voordat jy blindelings jou kaartbesonderhede insleutel of geld betaal om die transaksie te beklink, en waar moontlik, dring aan op betaling by aflewering van goedere – veral as dit ’n private transaksie is. Wees waaksaam.