Ek weet nie van jou nie, maar die nood van my medemens gryp my aan die hart. Dit het nog altyd en ek glo dit sal altyd die geval wees. Hier verwys ek spesifiek na die nood wat gepaard gaan met fisieke nood.
Meer as ooit tevore gewaar ek dat dit deesdae bitter moeilik is vir my mede-Suid Afrikaners om kop bo water te hou. Dis nie eens meer ’n geheim om te sien hoe kospryse die hoogte inskiet nie. Alles word bloot net duurder. En dié van ons wat bevoorreg is om ’n inkomste te verdien, kan dalkies nog daai paar ekstra kositems bekostig en dit na hartelus in die winkeltrollie plaas. Vir ’n noemenswaardige getal mede-landgenote is hierdie ekstratjies in die kosmandjie egter nie ’n gegewe nie.
En hier praat ek nie slegs teoreties of hipoteties nie. Nee, ek het dit al met my eie oë gesien en dit al aan my eie bas gevoel. Ons mense kry deesdae regtig swaar om te oorleef. Die redes daarvoor is legio en is al oorbekend aan ons almal. Elke maand se kosvoorraad word deesdae haarfyn beplan. Ekstra moeite word ingespan om daai spesiale aanbiedinge by ’n paar winkels te kry. Slegs die broodnodige word aangeskaf, want vir luukshede is daar deesdae bloot net nie meer die geld om dit te kan bekostig nie.
Ek het al gesien hoe mense by die betaalpunt van ’n supermark kom en verplig word om daai ekstra items uit die mandjie te haal, want die sente klop nie. En as die kos klaar gekoop is, moet die krag, water en ligte ook nog betaal word. Die trein- of taxi-geld vir die nuwe maand moet eenkant gesit word. Dan moet die begrafnispolis gediens word, skuldjies wat aangegaan is in die ou maand roep vir aandag en iewers moet iets oorbly vir die kinders se skoolgeld en ander behoeftes. Ons praat nie eens van klere koop of gaan uiteet nie. Nee wat, ag jou gelukkig as jy daai tipe aktiwiteit een of dalk twee keer ’n jaar kan bekostig.
Ag jou baie gelukkig of geseënd as die bogenoemde nie deel is van jou lysie bekommernisse nie. Die feit van die saak is dat miljoene van ons mense ekonomies swaar trek.
Hierdie oorbekende scenario binne ons Suid-Afrikaanse landskap het my genoop om die kritieke vraag te stel: wat kan ek (of ons) doen om die nood van ander te help verlig? Ek meen maar, hier is ek bevoorreg om ten minste ’n inkomste te genereer –soveel so dat nog genoeg oorbly om met ander te kan deel. Kan ek elke eerste of tweede mens in nood van hulp wees? Gewis nie, maar ek kan vir iemand doen of beteken.
Glo my, dit behoort nie baie lank te neem om agter te kom hoe groot die werklike nood deesdae is nie.
Gaan loer maar so ’n bietjie by ’n paar familielede in. Party gee dalk voor dat alles punt in die wind is. Dis nie lank nie en jy kom agter dat die tekens van die tye ook daar ’n paar rowwe draaie gemaak het.
Met die nood wat so groot is, is dit natuurlik ook nodig om te bid vir onderskeiding om te weet waar en hoe ek en jy kan help om die nood te help verlig.
Daar is diegene onder ons wat elke uitdagende situasie wil of kan manipuleer tot eie voordeel; ook diegene wat verseg om ’n vinger te verroer om iets aan die nood te doen. En diesulkes is blakend gesond en in staat om nog vir ’n paar dekades te kan werk, maar sit en wag eerder vir ’n toelaag wat nog ’n keer moet uitbetaal.
Dis egter daai groep mense onder ons, veral ons bejaardes, wat my regtig aan die hart gryp. Ook daai groep mense wat deur egte swaarkry-omstandighede dit bloot net moeilik het. Dis vir hierdie mense wat ek nie sal skroom om my eie hand diep in die sak te steek en te help nie. Ek het so ’n paar weke gelede na ’n televisieprogram gekyk waar die hoof van ’n bekende Suid-Afrikaanse noodlenigingsorganisasie hierdie treffende waarheid en wysheid gedeel het – as ons almal net iewers in ons eie gemeenskappe ’n hand kan verleen, dan sal ons hierdie land van ons op die wenpad kan sit. Dit het my so geïnspireer dat ek my daar en dan opnuut uitgedaag het om nog meer vir my medemens tot seën te wees. Ek wil of kan myself nie blind hou vir die nood van my medemens nie. Ek weier om net vir myself te lewe, want dit kan dalk net gebeur dat ek ook iewers op hierdie lewenspad (soos al sovele kere in die verlede) my medemens sal nodig kry.
Mag die nood van ander jou ook uitdaag om tot aksie oor te gaan. Iemand het eenkeer gesê ’n toe hand kan nie ontvang nie, maar ’n oop hand wel. Mag ons harte en hande altyd oop bly vir ander, want so ontsluit ons nog meer seëninge vir onsself en ander.