Kan julle al daardie sleeklokkies hoor lui?
In 2015 het die Santa-skoenboksprojek, met die hulp van die gemeenskap, hul teiken gehaal om Kersgeskenke aan meer as 750 kinders in die Drakenstein-gemeenskap te gee.
“Ons kan julle steeds nie genoeg bedank nie dat julle drome oral om ons heen help waar maak het,” vertel Ilse de Vlieger-Seynhaeve, Santa-skoenboks koördineerder vir die Franschhoek, Paarl en Wellington-omgewing.
Hierdie jaar het Santa-skoenboks hul teiken selfs hoër gestel en hoop om die liefde na 800 kinders uit te dra.
Santa-skoenboks het 15 fasiliteite wat dwarsdeur Wellington, Lady Loch, Voor-Groenberg, Van Wyksvlei, Hillcrest, Mbekweni, Groot-Drakenstein en die landelike omgewing versprei is.
Hierdie kinders – by die crèches, Sondagskole, nasorgfasiliteite en ’n projek vir mishandelde kinders – soek almal net ’n klein bietjie ekstra liefde en welwillendheid hierdie Kersfees, en Santa-skoenboksprojek hoop dat hulle met julle hulp vanjaar ’n jaar kan maak wat hulle sal onthou.
Kry dus julle kinders, familie, kollegas bymekaar en begin maak daardie beloftes.
Gaan na www.santashoebox.org.za om as ’n skenker te registreer en kies die naam en ouderdom van ’n kind vir wie jy ’n skoenboks wil volmaak.
Die toegedraaide Santa-skoenboks moet op 11 November of 12 November by die Wellington Preparatory School afgelaai word.
Vir meer inligting, bel Ilse by 083 594 5619 of stuur ’n e-pos na ilse@flac.co.za.