Weerstoestande gee wynprodusente hoop

Ná ’n uitdagende 2024-seisoen gekenmerk deur uiterste weerstoestande soos oorstromings, ryp en sterk wind, is Suid-Afrikaanse wynprodusente optimisties oor die 2025-oes. Die meeste wynstreke het bogemiddelde winterreënval gehad, met meer koue-eenhede


Ná ’n uitdagende 2024-seisoen gekenmerk deur uiterste weerstoestande soos oorstromings, ryp en sterk wind, is Suid-Afrikaanse wynprodusente optimisties oor die 2025-oes. Die meeste wynstreke het bogemiddelde winterreënval gehad, met meer koue-eenhede en minimale rypskade, wat produsente hoopvol laat vir die nuwe seisoen. Dít is alles volgens oesvoorspellings wat deur die bedryfsliggame Vinpro en SAWIS saamgestel is.

Die winter van 2024 het rekordreënval in verskeie streke gebring, wat damvlakke laat styg het. Die stokke het ook goeie koolhidraatreserwes opgebou danksy laer siektedruk en gunstige groeitoestande ná die oes. Produsente het ook later gesnoei om die risiko van rypskade te verminder, wat in kombinasie met huidige lentetoestande ’n meer egalige bot verseker het.

Gedurende die tros-inisiasieperiode van die vorige groeiseisoen het atipiese koel en nat toestande in die binnelandse streke geheers en warm en winderige toestande in die kusgebiede.

Hierdie onreëlmatige weerpatrone kon tros-inisiasie in 2024 beïnvloed, wat ’n direkte invloed het op die grootte en gehalte van die oes van 2025.

Alhoewel sommige wingerde steeds van vloedskade herstel en die uitwerking van die dalende nasionale oppervlak onder wingerd en toename in gemiddelde wingerdouderdom sekerlik ’n rol speel, word ’n goeie gehalte-oes oor alle streke in 2025 verwag.

Belangrike faktore wat die uiteindelike oesgrootte bepaal, is almal weerverwant en sluit in siektedruk en die impak van wind tydens blom en korrel-set.

Wanneer huidige toestande met langtermynneigings vergelyk word, moet aandag gegee word aan die kultivarspektrum, aangesien sommige kultivars van nature laer opbrengste lewer.

“Die 2025-oes het potensiaal vir herstel ná ’n uitdagende 2024, danksy gunstige wintertoestande en verbeterde toestande vir reserwe-opbou. Dit is nietemin noodsaaklik dat produsente die beskikbare hulpmiddels gebruik om by weerpatrone aan te pas om volhoubare produksie te verseker,” sê dr. Etienne Terblanche, die uitvoerende hoof van Vinpro-konsultasiedienste.

Suid-Afrika se wynbedryf is sinoniem met veerkragtigheid, en met gunstige klimatologiese toestande kan die 2025-oes terugkeer na uitsonderlike gehalte.

Verbeterde damvlakke jaar ná jaar, verhoogde reënval en die ophoping van voldoende koue-eenhede het die weg gebaan vir ’n potensieel sterk seisoen. ’n Normale oes en bestendige gehalte oor alle streke is noodsaaklik vir die stabilisering van produksie en die versterking van die bedryf se volhoubaarheid en langtermynmededingendheid.

“Ons is vol vertroue dat die 2025-oes oor al tien wynstreke van uitstekende gehalte sal wees en ’n broodnodige hupstoot aan ons produsente en die breër wynbedryf sal gee,” sê Rico Basson, hoof van South Africa Wine.

“ ’n Suksesvolle oes versterk ons sektor se volhoubaarheid, mededingendheid en veerkragtigheid. Dit strook met ons strategie om ’n robuuste en mededingende wynbedryf op te bou, wat plaaslik en internasionaal bly floreer en wat Suid-Afrikaanse wyne as leiers op die wêreldtoneel posisioneer,” sê Basson.



.
Bron: www.sawine.co.za

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.