Tientalle Wellingtonse tieners het in die eerste week van die wintervakansie ’n onvergeetlike lees- en kreatiewe ervaring op die dorp geniet. Dit is moontlik gemaak deur ’n reeks programme wat vir hulle deur die Wellingtonse openbare biblioteek en die Breytenbach-sentrum aangebied is.

Die reeks programme het op 27 Junie begin met die voorlees van stories en rympies en is opgevolg deur ’n kreatiewe inkleurprogram. Die volgende dag het die kinders papierborde en melkhouers in pragtige kunswerke omskep en in die namiddag is die program voortgesit toe die kinders onder leiding van Marie Prinsloo gehelp is om kunswerke op regte, egte skilderdoek te skep.

Op 29 Junie is die program voortgesit toe stories voorgelees is voordat die kinders geleer is om hul eie ontwerpe te maak wat hulle op lap kon afdruk om hul eie bandanas te maak. Hulle het ook die geleentheid gekry om te leer om hul eie ontwerpe op t-hemde af te druk.

Die week van pret en plesier is op 30 Junie met ’n filmvertoning voortgesit en op 1 Julie is dit afgesluit deur ’n poppekas-vertoning in die Bôrdienghuis waar die kinders ook die geleentheid gekry het om hul eie pizzas te maak, waaraan hulle na hartelus kon smul.

Volgens die personeel van die Wellingtonse openbare biblioteek is hierdie vakansieprogramme wat saam met die Breytenbach-sentrum aangebied word, vinnig besig om in gewildheid toe te neem.

Minstens 50 kinders het elke dag na die biblioteek en die sentrum gestroom om aan die programme deel te neem.

You need to be Logged In to leave a comment.