Die Drakenstein-munisipaliteit het sy frustrasie teenoor belastingbetalers in Wellington uitgespreek nadat ’n spul klagtes teen amptenare ingedien is.

Die klagtes is formeel deur die Wellington-belastingbetalersvereniging (WBV) aangemeld.

“Die WBV het ’n amptelike klag teen Koos le Roux, die speaker van die Drakenstein-munisipaliteit, by die provinsiale kantoor ingedien.”

Die WBV se komitee sê hy sou wou sien dat Le Roux aan ’n tugverhoor onderwerp word omdat hy glo nie genoegsame gehoor aan klagtes gee nie en toelaat dat amptenare wat daarby betrokke is, “die klagtes van die tafel af vee”.

Dit volg ná ’n vorige vlaag klagtes wat deur die WBV teen Gerald Esau, Thys Serfontein sowel as Lorraine Cyster en Theuns Bester, twee lede van die burgemeesterskomitee, aangemeld is weens sogenoemde wangedrag wat teenstrydig is met gedragskodes waaraan munisipale amptenare moet voldoen.

Paarl Post het die Drakenstein-munisipaliteit genader om die omvang van klagtes te verstaan en ondersoek in te stel.

Reaksie tot dié versoek deur Johan Miller, die burgemeesterskomiteelid vir regeringsbestuur en nakoming, lui as volg: “Die klagtes waarna verwys word, is reeds in detail en op meer as een geleentheid persoonlik met lede van die WBV gehanteer. Dit sluit in die Spruitrivier-aangeleentheid en die oewerplan, wetstoepassing, vullisverwydering en die haweloses.”

Hy sê dit is deur die burgemeesterskomiteelede Lorraine Cyster, Theuns Bester en Avron Appollis in samewerking met die wyksraadslede Nical Sauerman en Elizabeth Baron, sowel as die stadsbestuurder, dr. Johan Leibbrandt, behartig.

Dit is glo persoonlik en individueel met die betrokke belastingbetalers bespreek en die WBV is volgens Miller dienooreenkomstig ingelig.

“Wat die WBV egter nie wil aanvaar nie, is dat hy nie die amptelike openbare verteenwoordiger van die belastingbetalers van Wellington is nie.

“Die vier wyksraadslede van Wellington, wat op 1 November 2021 verkies is en die belange van die belastingbetalers van Wellington amptelik in terme van die Grondwet verteenwoordig, is Appollis, Baron, Sauerman en Christephene Kearns – bygestaan deur demokraties verkose wykskomitees.”

Miller sê dit is belangrik dat die WBV inskakel by die bestaande kommunikasie- en bestuursmodel van die munisipaliteit.

“Wanneer die WBV ’n klagte het, moedig die munisipaliteit hom aan om die voorgeskrewe kommunikasie-protokol te volg. Kontak jou wyksraadslid (al die besonderhede is by http://www.drakenstein.gov.za/about-us/political-leadership/contact-a-councillor), of meld dit via ons SeeClickFix-toepassing, tolvrye nommer (080 131 3553) of e-pos-adres (customercare@drakenstein.gov.za) aan.”

Eugene Stapelberg, die nuutverkose WBV-voorsitter, het die volgende in reaksie op Miller se terugvoer op die hart gedra: “Ek neem kennis van mnr. Miller se niksseggende, van-alle-waarheid-ontbloot terugvoer en dat Wellington se belastingbetalers self sal besluit watter raadslede en organisasies namens hulle praat – nie die Drakenstein-munisipaliteit nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.