Ek sien myself as een van die bevoorregtes om te voet deur verskillende woonbuurte in ons mooie dorp te beweeg.

Só sien en hoor ek dinge wat soms ’n traan in die oog laat of my ander tye laat glimlag, maar meestal laat dit my met kommer in die hart al omkyk-omkyk loop.

Ek sien soveel mense, ooglopend fris en gesond, in die fleur van hul jeug, in die son sit en staaltjies vertel van die vorige aand of naweek, of dobbel.

Ek hoor die gevloek en skel van ’n ouer aan ’n minderjarige en die liederlikste taalgebruik waaroor omstanders lag asof almal maar net aanvaar dat dit normaal is.

Ek sien ’n ouma gebukkend na die stortterein loop, met ’n emmer in die hand, en ek besef eers later dis haar nagemmer. Ek wonder ineens of daar dan nie ’n kind is om dié emmer te gaan leegmaak nie.

Tussen al die blokke woonstelle deur sien ek hoe inwoners hul vullis in die oop stuk veld uitgooi. Later sal iemand daarin kom krap om te kyk of daar iets is wat hulle kan wegvat en by die scrapyard kan gaan ingee.

Ek sien verskriklik baie kinders – kleine kindertjies wat kaalvoet en met skamele kleertjies aan in parkies en op landjies speel, sonder enige toesig.

My hart krimp elke keer ineen as ek na hulle kyk en ek soms ’n vragie inkry soos “Waar’s jou mammie? Wie moet na jou kyk? Moet jy nie in die skool wees nie?” Soms staar hulle my aan asof ek ’n vreemde wese is wat snaakse vrae vra.

’n Paar weke gelede het ek oor ’n oop stuk grond gestap toe ’n tiental kleintjies verby my hardloop en ek agterna besef het waarom. ’n Man het daar verbygeloop, hulle gesien speel, met hulle geraas en gesê hulle moet maak dat hulle by die huis kom.

Toe ek en hy so te sê by mekaar verbyloop, sê hy: “Hulle speel verdomp so ver van die huis af; hul ouers weetie eens waar hulle is nie.”

Dieselfde oop stukkie grond waar die oom die kinders verjaag het, is waar die vierjarige Tamia Botha se liggaampie in ’n swartsak gevind is. Ek wonder baie oor daai spesifieke kindertjies wat daar gespeel het – heel moontlik dieselfde ouderdom as Tamia.

Ek wonder of hulle besef dat dit een van hulle kon gewees het? Weet hul mammies of ander ouers ooit dat hul kinders op daai selle plek – alleen, sonder dat hulle weet – gespeel het?

Hoeveel kinders word nie steeds, selfs nadat die soveelste kind se liggaam gevind is, toegelaat om iewers te gaan speel waar niemand ’n ogie hou nie?

Gee ouers net eenvoudig nie meer om nie? Wanneer gaan mense leer uit wat rondom hulle gebeur? Hoekom is mense so traak-my-nie-agtig? Is my kind nie meer jou kind nie? Is die versigtigheid slegs daar wanneer iets gebeur? En daarna? Terug na “normaal?” Hoe normaal kan dit tog wees?

Ek salueer die man wat die kindertjies van die veld af verjaag het. Net jammer ek het nie sy naam gevra nie.

Ek dink dis wat ons almal veronderstel is om te doen. Ons moet ons oë op ons kinders hou, selfs al is hulle nie ons eie nie. Moet net nie vir my vra wat sê jy vir of doen ’n mens met die ouers nie.

Baie mense skrik mos eers as die ondenkbare met hulle gebeur; voor hul eie deur kom staan.

Ek is nie teen plakkate rondswaai en aan optogte deelneem nie. Ek glo net voorkoming is belangrik. Dit het al oor en oor gebeur. Mense is oproerig, hartseer, woedend as iets so drasties gebeur het, soos verkragting en moord, veral as ’n kind die slagoffer is.

Tog sien jy slegs enkele dae of ’n week nadat almal groot geskrik het, dat ouers wraggies weer hul kinders tussen êrens en nêrens laat speel – nie eens naby hul woonplek nie.

Ek weet ons sal nooit die ou dae weer kan terugkry nie, maar destyds het volwassenes “uitgekyk” – nie net vir hul eie kinders nie, maar ook vir hul bure of straat se kinders.

Ons ouers kon ’n kind wat kwaad doen, ’n hou gee, en as jy by jou ouers gaan kla, kry jy sommer nóg ’n hou, want “daai antie sou jou nie verniet geslaan het nie”.

Watter soort grootmense gaan vandag se kinders eendag wees as hulle na die voorbeelde rondom hulle kyk?

You need to be Logged In to leave a comment.